Liedjieskrywers gesoek

Karen Zoid
Hoop jy om met ’n loopbaan as liedjieskrywer te begin? Dis nou jou kans! Vir die eerste keer in Suid-Afrika nooi nege van die land se gunstelingsangers en -groepe in vennootskap met Sanlam, LitNet en MK (DStv Kanaal 324) talentvolle liedjieskrywers uit om hul lirieke in te stuur om as ’n amptelike liedjie opgeneem te word. Dié kompetisie, bekend as Sing ‘it, begin vandag en die wenners ontvang elkeen ’n iPad 2 en R3 000 kontant, en staan ook die kans om in ’n musiekvideo te verskyn. Die eerste agt kunstenaars en groepe, wat almal ‘n sterk teenwoordigheid in hul onderskeie musiek-genres het, is: Karen Zoid, Jax Panik, DJ Cleo, Dans Dans Lisa, Bittereinder, iScream & The Chocolate Stix, Niskerone & SFR, en Dance, You’re on Fire.
Die negende kunstenaar word binnekort aangekondig. Inskrywings sluit aan die einde van Oktober. Daarna sal die beoordelaars (bestaande uit bogenoemde kunstenaars) die inskrywings noukeurig nagaan, hul gunsteling kies, en dit as ’n amptelike liedjie opneem. Al nege liedjies sal dan vir twee maande gratis vanaf die internet afgelaai kan word. Die groep wie se liedjie die meeste afgelaai word, ontvang ’n begroting van MK vir ’n musiekvideo van daardie liedjie. Die video sal op MK asook ander kanale vertoon word en ook aanlyn beskikbaar wees.
“Dit sal ongelooflik wees om op ’n meer persoonlike vlak interaksie met bewonderaars te hê – kom ons kyk wat ons saam kan skep,” sê Just Nathan, kitaarspeler van iScream & The Chocolate Stix.
Etienne van Heerden, LitNet se uitvoerende redakteur, is baie opgewonde oor die kompetisie. “Nuut, byderwets, inklusief, kreatief, energiek en pret – Sing ’it is werklik Suid-Afrikaans in dié opsig dat dit kulturele grense oorbrug en diversiteit vier deur ’n opwindende platform vir nuwe liedjieskrywers te skep.
“LitNet bevorder skryf in alle vorme – van gedigte tot blogs tot resensies – en nou ook lirieke. Sing ’it gaan groot wees!”
Uit die oogpunt van kruiskulturele samewerking sal musikante en liedjieskrywers oor die hele Suid-Afrika heen die geleentheid hê om saam te werk en sal ongetwyfeld mekaar se werk beïnvloed. Dit behoort weerspieël te word in die gehalte en diversiteit van opnames wat die proses sal oplewer, sê MK, die amptelike mediaborg.
Om aan Sing ’it deel te neem, besoek die volgende internetplatforms:
Webwerf: http://singit.litnet.co.za
Facebook: http://www.facebook.com/singit
Twitter: @singit2011.

Comments