Musiek met Johan Stemmet

Johan Stemmet
Die Noot vir Noot-aanbieder Johan Stemmet gesels met THE BEAT oor sy musiek, die nuwe seisoen van Noot vir Noot (begin Vrydag 7 Oktober op SABC2 om 19:30), sy nuwe uitgebreide familie, daardie bekende veelkleurige onderbaadjies en oor ligte wat bo gehore se koppe ontplof.

Geluk met die nuwe seisoen! Hoe verskil die nuwe seisoen van die voriges? Daar is twee spiksplinternuwe speletjies. Die stel is effens aangepas met die inbring van n videomuur en ons het n nuwe openingslogo!
Watter spesiale gaste het julle in die nuwe seisoen? Soli Philander, Mark Banks, Shimmy Isaacs en Louw Venter. 'n Skreeusnaakse spesiale program met een van die wêreld se beste Elvis nabootsers as gaskunstenaar.
Wat sou jy dink is die hoogtepunt van die nuwe seisoen/'n episode wat kykers nie durf mis nie? Daar is weer 'n uiteenlopende samestelling van deelnemers. Alle moontlike beroepe word verteenwoordig tot n Advokaat van die Pretoria Balie! Kykers durf nie die reeks mis nie ! Ons het die land se top sangers weer bymekaar. Juanita du Plessis, Dr Victor, JJ Stephens, Elvis Blue, James Bhemgee, Adam Tas, Madelene Abrahams,Joseph Clark, Clair Johnston,Lloyd Cele,Wicus vd Merwe, Nicholis Louw, Gerrie Pretorius, Snotkop, Nianel, Loukmaan Adams ( Emo se broer … skitterend!! ) Elizma Theron, Bobby van Jaarsveld, Heinz Winckler, Die Bala broers ens.
Wat dink jy is die suksesresep van Noot vir Noot? Ons verander gereeld aan die program deur nuwe speletjies in te bring en so hier en daar die stel te vernuwe. Verder is dit die interaktiwiteit van die program en die feit dat kykers dit geniet om op n Vrydag aand na n harde week, skoene uit te kan skop en saam met die gesin n bietjie prêt en vermaaklikheid te geniet!
Wat verbaas jou die meeste van mense se reaksie/obsessie met die reeks? Dat hulle steeds wil weet waar my onderbaadjies is! Nee die lojaliteit van ons kykers verstom my. Ons kykers het al begin aanneem dat die program volksbesit is soos mrs Balls Chutney of Simba chips. Dis vir ons heerlik ! Dis ook ongelooflik om te sien hoe daar nou n nuwe generasie bygekom het in deelnemers en kykers. Ons kykers is die hartklop van die program.
Hoekom is dit vir jou so lekker om Noot vir Noot op te neem? Wat laat jou terugkom keer op keer? Dis heerlik om jouself te besig en te geniet met iets wat ander waardeer en ook geniet. As die publiek nie van die program gehou het nie sou hy vanself n dood gesterf het en almal van ons wat daarop werk belangstelling verloor het. Elke keer wat ons terugkom klim ons kyksyfers wat my goeie rede gee om keer op keer terug te kom.
Was daar al 'n tyd gewees waar jy gedink het dit gaan nie weer op die lug wees nie, of jy het nou genoeg gehad en wil iets anders doen? Ek weet nooit verseker of die program terug gaan kom nie want ek is in die hande van die uitsaaier wat skielik kan besluit dat hulle iets anders in ons plek wil uitsaai en dan is ons daarmee heen! Ons behoud is egter die deurlopende ondersteuning en aanhang van die publiek. Ek doen nie net Noot vir Noot nie. Ek is ook met ander televisie programme besig en by betrokke so ek doen wel iets anders. Maar Noot vir Noot bly my “babietjie” en hulle sal my eendag by die ateljee moet uitsleep om op te hou met dit wat vir my lekker is en my gelukkig maak.
Wanneer sien ons jou weer sing op Noot vir Noot? Ek weet nie. Ek het altyd in die spesiale program as gaskunstenaar gesing maar dan gebruik ek plek op 'n program waar ons eerder vir n nuwe outjie n kans kon gegee het. Ek sal op die laaste uitsending van Noot vir Noot as sy einde daar is weer sing om “goodbye” te sê maar ek hoop nie dit gaan gou die geval wees nie!
Het jy nuwe CDs uit? My laaste twee cds was die geestelike albums; “Inspirational Songs” en toe “Reisiger”so twee jaar gelede. Ek is nie eintlik meer in die cd mark nie as gevolg van die werklas verbonde aan my televisiewerk. Mens doen iets ten volle of jy los dit. Ek moes n keuse maak want ek kon nie meer albei beroepe ten volle beoefen nie. Daar was net nie meer genoeg ure in n dag nie en die spaar ure het ek baie besitlik op geraak sodat ek meer tyd vir myself kon gun om my vliegstokperdjie te beoefen.
Vertel ons 'n bietjie van Woord vir Woord... My outobiografie! Ek het 'n behoefte gehad om my lewensreis van n kaalvoet delwerskind op Kleinzee in Namakwaland tot waar ek vandag staan te vertel. Daar was lekker dinge en baie einas en toon stamp en kopstamp oor die jare. Niks het sommer net vanself en maklik gekom nie. Woord vir Woord vertel ek van my kleintyd dae en die eerste kennismaking met musiek en orkesspeel. Ek vertel van die koshuisdae op Hoërskool en allerlei staaltjies uit die hippie jare van sestig. Ek vertel oor die studentejare op Stellenbosch en die musiekmaak wat my aan die gang gehou het. Dan my dae as onnie en later SAUK televisie en die beginjare van televisie…die kunstenaars waarmee ek gewerk het en die programme wat ons gemaak het. Ek vertel van my eie konserte en toere , my vliegjare en natuurlik die verhaal van Noot vir Noot. Ek sluit die boek af op n persoonlike “noot” deur van my vrou en seuns en persoonlike lewe te vertel. Dit was groot prêt om die boek te skryf. Volgende jaar bring ek n Musiektrivia boek uit en ek sien net so daarna uit.
Vertel ons bietjie van jou familie: wie is jou vrou en jou kinders en wat doen hulle nou? My vrou Colleen is n skoolhoof van n groot Hoërskool in Johannesburg. Sy is n wiskunde boffin en werk op Noot vir Noot tydens opnames. Sy is verantwoordelik vir die telling houding tydens die programme. My oudste seun Carl werk vir my. Hy is ons kreatiewe regisseur en sorg vir al die lokvideos van NVN. Hy hanteer ook die multikamera regie van my ander produksies soos WISE UP ! Carl het n BA graad in rolprentwese. Hy het ook n honeursgraad in Drama en het so pas sy Meestersgraad in regie en kreatiewe skryfkuns aan die universiteit van Pretoria verwerf. My jongste, Etienne, het n Honeursgraad in Informatika en Multimedia. Hy ontwerp die elektroniese tydskrifte vir oa Car magazine, Getaway magazine en SA Wine magazine. Hy het vandeesmaand getrou met n pragtige meisie in dieselfde veld as hy en nou het ek n dogter bygekry!
Enige van hulle al op Noot vir Noot gewees? Carl was vir baie jare n KTV kinderaanbieder en ek het hom eenkeer gebruik om vir my en Carike aan te kondig toe ons saam op Noot vir Noot gesing het.
Waarvoor sal jy nooit nee sê nie? Vir 'n wildsboudjie of n seekos ete! Om nie eers van n goeie roowyntjie te praat nie.
Waarvoor sal ja sê nie? Vir enige ding wat ek nie wil doen nie of nie oortuig is dat dit die regte ding vir my is nie.
Wat laat jou lag en wat maak jou sommer dik befoeterd? Ek lag vir die lewe . Daar is humor in so baie dinge wat hier om ons aangaan. Ek raak baie moeilik en bevoeterd oor onregverdige en sommer dom dinge wat gedoen en gesê word veral deur hoëprofiel mense!
Na watter musiek luister jy op die oomblik? Behalwe vir die letterlik honderde CD's wat weekliks op my lessenaar beland van kunstenaars wat graag op Noot vir Noot wil kom sing luister ek tans na Jamie Cullum live at Blennheim Palace. Die outjie mag maar jazz speel!!
Jou Noot vir Noot gesegdes: "Kyk hy hoe hy vir my" en "Vygtig randjies vir jou" het al sedinge in die volksmond geword. Wanneer het jy agtergekom dit het so 'n impak gemaak en hoe voel jy oor daai twee juweeltjies? Dis baie snaaks! “Kyk hoe kyk jy vir my” moet aan Casper de Vries toegedig word. Ek weet nie of ek dit ooit gesê het nie maar Casper het op sy vertonings te kenne gegee dat dit ek was as hy my altyd opgestuur het. Ek dink Bles Bridges het oorspronklik met die storie begin. Hy het altyd tydens sy optredes “Ruiter van die Windjie” gesing en dan rose uitgedeel. Dan het hy gewoonlik die woorde verdraai na” Ruiter van die windjie wil ek bly, kyk hoe kyk die mooi girl nou vir my” Ek wonder of Caper nie op n stadium deurmekaar geraak het met my en Bles nie? Die R50 tjies is my eier oor en oor. Volkskas Bank het vir ons in die beginjare van NVN n sekere begroting vir gehoorpryse gegee en die aanvaarde bedrag was R50 vir n antwoord in daardie dae. So elke keer wat n gehoorlid n antwoord kon gee het hy of sy Vyftig Randjies ontvang met die komplimente van Volkskas… wat later ABSA geword het! So as jy deesdae iets ouliks doen of sê … mooi so ! Vyftig Randjies vir jou … Hey !! Ek het die eerste daarvan bewus geraak tydens n optrede van Casper de Vries wat ek bygewoon het juis om te kyk hoe hy die NVN ding doen!
Het jy al enige snaakse/lekker "fan encounters" gehad? (vertel vir ons 'n bietjie) Ag nee ek geniet dit vreeslik as iemand met my kom gesels. Die vreemdes wat ek kry is die ouens wat vir jou sal sê “Weet jy jou suster het jare lank by my ma hulle loseer” As ek nou verduidelik dat dit nie so kan wees nie want ek het nie n suster nie is hulle vir my kwaad want hoe durf ek die bubble bars! Hulle het dan jare so geglo! Of “jy het met my ma op Tukkies uitgegaan toe julle studente was.” “Nee, kan nie wees nie want ek was op Stellenbosch en nie Tukkies nie” Dan kry ek… “Wil jy vir my sê my ma sal vir my lieg!!"
Wat is jou motto in die lewe? Wees jouself ! Dis baie vermoeiend om gedurig iets of iemand te probeer wees wat jy nie is nie.
Lag jy soms vir jouself as jy na die show kyk? Het dikwels met die onderbaadjies vir myself gelag. Lag ook as ek sien hoe ek n liedjie probeer onthou wat my ontgaan het en dan om dit probeer praat sodat niemand moet agterkom nie. Die geheue lol soms lekker.
Hoe het jy gevoel oor daardie oulike onderbaadjies wat jy so gedra het? Ek het dit vanselfsprekend nooit ernstig opgevat nie. Dit was vir die prêt en om mense te kry om oor Noot vir Noot te praat… en het dit nie sy merk gelaat en dus uitstekend gewerk nie! Maar tot vandag toe word jy trompop geloop en gevra waar jou onderbaadjie dan is? As n onderbaadjie nou regtig besonder verspot was en ek my vrek geskrik het daarvoor het ek hom twee maal gedra want dan het ek geweet daar gaan gepraaaaaat word!
Was daar al enige snaakse insidente op stel (as die kameras nie rol nie)? Te veel om op te noem. Ergste een aand toe n televisielig bo die gehoor ontplof het en mense se hare en klere gebrand het. Dit was tydens n gespanne oomblik in die program toe ek op n antwoord van n deelnemer gewag het dat die verskriklike slag gehoor is en net vonke gesien is. Dit was beslis nie toe snaaks nie maar snaaks as ek nou dink hoe groot die arme deelnemer se oë was. Sy het gedink dis omdat sy te lank neem om te antwoord.

Comments