Koos Kombuis en Stef Bos se Niemansland

Koos Kombuis en Stef Bos
In 2010 voltooi Nederlandse-sanger Stef Bos 12 nuwe werke in opdrag van ‘n Nederlandse TV-stasie, die NCRV, elkeen geïnspireer deur ‘n Bybelse figuur. In sy eie woorde: “Ik wilde los van geloof, kerk en dogma’s twaalf Bijbelse figuren uit de context van het boek halen waardoor ze in een ander licht komen te staan en het mensen worden van deze tijd”. Dit lei tot die album In een ander licht. Ook legendariese Suid-Afrikaanse-sanger Koos Kombuis bevind hom in hierdie tyd op ’n geestelike terrein toe hy in opdrag van die skilder Marius Lourens ’n liedjie skryf vir die opening van sy Paas-kunsuitstalling. Die lirieke van Die Donkie word daarna in die Kerkbode gepubliseer. In 2012 word Koos se CD dertien uitgereik. Daarin beskryf Koos dit waarin hy glo, waarop hy hoop en waarvoor hy lief is. Sou dit vaderskap wees wat die twee troebadoere gelei het na sulke introspektiewe ondersoek, of bloot die vertwyfeling wat met die ouderdom kom? Watter rol het hulle konserwatiewe, Christelike kinderjare hierin gespeel? Die een ’n kind van Afrika, die ander van Europa; so verskillend, dog so eenders. Is hulle uiteindelik nou “gered”, of het hulle die pad geheel byster geraak? Koos en Stef vra hulself en mekaar hierdie vrae in die nuwe vertoning Niemandsland. Met die nodige erns en gewydheid, maar nooit sonder ’n stewige skoot humor, patos en selfspot nie. Die inhoud van die vertoning gaan ‘n samekoms wees van twee manne  van dieselfde generasie wat weet wie hulle was, wie hulle is, en wie hulle eendag wil wees. Ook waar hulle was, waar hulle is, en waar hulle eendag wil wees. Sien die twee se Niemansland op 27 en 28 Februarie by Die Boer in Durbanville, van 19 tot 20 Maart by die Atterbury Teater in Pretoria en vanaf 4 tot April by die KKNK in Oudtshoorn.

Comments