NUUT! Jack Parow - Eksie Ou!

Jack Parow Is Die Ou!
Suid-Afrika se eie gevaarlike romantiese Afrikaans rapper, Jack Parow, sal sy tweede album, Eksie Ou, onder sy eie platemaatskappy, Parowphernalia, bekendstel. Die album sal die rakke vroeg Desember 2011 tref en sy beste werk nog kan verwag word. Eksie Ou volg sy eerste album, Jack Parow, wat verlede Mei vrygestel is en waarvan meer as 50 000 eksemplare verkoop is. Volgens Jack sa die CD jou sal laat lag, dink, huil en laat bons.  “My lirieke is maar los en grapperig. Ek wou net vir mense iets gee om oor te lag.  Suid-Afrika het so baie kak vir mense om oor te worry, so as hulle na my CD luister, kan hulle darem bietjie lag.  Ek het ook meer ernstige songs, maar dit het altyd ‘n ligte ondertoon,” sê Parow oor sy lirieke. Eksie Ou is vervaardig deur Justin de Nobrega, wat ook verantwoordelik was vir die eerste album, Jack Parow,  se vervaardiging. Parow het  weer sy kiefste vriende nader getrek om deel te wees van die album. Hulle is Dawid Kramer, Francois van Coke (Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel), Pierre Greeff (Die Heuwels Fantasties), Gazelle, Haezer, PH Fat en Sibot. Hoor meer oor die album uit die perd se bek
Beskryf die klank op Eksie Ou. “Soos my vorige album is dit maar ‘n mix van ‘n groot verskeidenheid musiek.  Dit beweeg van harde Hip Hop beats na Dub Step na rave na volwasse kontemporêre musiek.  Ek is nie seker wat volwasse kontemporêre musiek is nie, maar dit klink heavy.  So ja, dis maar weereens net ‘n reis deur verskillende invloede wat my begeester het gedurende die skryfproses en dronk aande.  Maar ek dink dit is lekker; iets vir almal en almal vir iets, soos die Drie Musketeers gesê het.”
Hoe is hierdie album anders as die eerste album? “Wel, dis ander lirieke en ander musiek, so dis seker die eerste manier waarop dit anders is.  Ek dink ook omdat ek miskien kamstig ‘n bietjie cooler is as vantevore (ek is nie, maar moet vir niemand sê nie, asseblief; dit gaan my streed cred vernietig), kan ek met fancier musikante werk.  Op my vorige album was dit meer pitty collaborations, maar nou is almal meer borderline gelukkig om saam met my te werk, so die beats en lirieke is schmaarter.”
Hoe was dit om saam met Dawid Kramer te werk? “Dawid Kramer is soos in my hero.  Ek is mal oor hom.  Ek het groot geword op sy musiek en het nog al sy plate.  Om ‘n song saam met hom te doen was heavy next-level, asook intensely nerve-wracking, omdat ek wou cool wees.  Omdat ek so baie gedink het oor hoe om cool te wees, het ek heeltyd soos ‘n nerd gelyk en heavy weird gewees.  Maar dankie die vader hy het nogsteeds ‘n track saam met my gedoen.  Hy het my seker maar jammer gekry.” 

Comments