Noot vir Noot is terug vir hope musiek-plesier!

Vrydagaande gaan weer sommer jolig wees vanaf 5 April wanneer die 38ste (korrek – 38ste!) seisoen van die gewilde Noot Vir Noot weer terug op SABC2 is. The Beat het by die gewilde aanbieder van die reeks, Johan Stemmet, gaan kuier om uit te vind wat op kykers wag in die nuwe seisoen. En hy vertel ook ons van ‘n paar blapse wat hy al gemaak het en wat mense vir hom sê as hulle hom op straat ontmoet.
Steve Hofmeyr en Johan Stemmet op die Noot vir Noot-stel
Geluk met siesoen 38! Wat is ‘nuut’ in die nuwe seisoen? Dit is reeks 38.  Daar is ‘n hele paar veranderinge in die nuwe reeks.  Behalwe vir drie opwindende nuwe speletjies is al die grafika oorgedoen en aanpassings/ verbeteringe tov verdere kykerinteraksie in bestaande speletjies soos bv die Noot assosiasie speletjie aangebring.
Kan jy dalk vir ons vertel watter spesiale gaste in die nuwe seisoen te sien gaan wees? Daar is weer ‘n goeie potpourri van ou bekendes/gewildes/grotes sowel as nuwe stemme op die horizon. Shenley Pretorius, ‘n 14 jarige blinde sangeres met die ongelooflikste stem gaan die kykers roer! Staan by!!
Die Noot vir Noot-logo
Bly die stel dieselfde, of is daar veranderinge? Dit is nie koste effektief om gereeld ‘n nuwe stel te bou nie maar subtiele veranderinge word aangebring ten opsigte van die effekte beligting.
En die Musiekfabriek, dieselfde out gesiggies of ‘n paar nuwe mense by? Johan van Rensburg het met reeks 37 uitgetree. Mike Bester van Mango Groove faam het by die orkes aangesluit.
Wanneer het julle die ‘groenlig’ van SABC2 gekry om die nuwe seisoen op te neem en hoe lank het julle an die nuwe seisoen beplan? Ons het Mei verlede jaar die groen lig vir twee reekse gekry.  Dit neem ons 8 maande om die voorbereiding van ‘n reeks te doen, op te neem en die redigering en finale klank meng af te handel.
Enige verassings in die nuwe seisoen? Die “wat volg” speletjie wat gewoonlik deur die gaskunstenaar gesing word, word nou deur die lede van die orkes gesing. Dit is uiters vermaaklik.
Johan, jy is soos ‘n wandelende musiek-genie, hoe onthou jy al die musiek-trivia? Dit kom maar saam met die terrein oor baie jare. As jy jou nering vir lank genoeg beoefen moet jy seker op n stadium jou onderwerp begin ken! 
Die orkes oefen
Het jy al enige antwoorde verkeerd gehad in jou loopbaan op Noot vir Noot? O ja beslis, ek het juis in die afgelope reeks iemand amper met R200 ingedoen toe hy sê “Boyz II men” bestaan uit 4 lede. Ek sê toe nee dis 3. Hy was eintlik korrek want hulle was aanvanklik 4.Ons kon dit gelukkig regstel in die program. Die orkeslede het my reggehelp.
Enige snaakse insidente op stel wat jy met ons kan deel? Daar gebeur maar in bykans elke program n snaaksigheid. My beste is nog die deelnemer wat die reel moes voltooi; “I shot the sherriff…” Sy antwoord;” But I did not shoot him dead you see! “ ipv …I did not shoot the deputy “
Wat het ooit geword van jou kleurvolle onderbaadjies wat jy altyd gedra het? Dit is aan liefdadigheids organisasies en kinderhuise geskenk wie dit vir fondse opgeveil het.
Wat weet mense nie van jou nie? Ek weet nie…ek dink so te sê alles is al van my oor die afgelope 33 jaar van my loopbaan in die vermaaklikheids wereld gesê. Laat ek nog bietjie dink oor hierdie een!
Enige nuwe CD’s/Boeke waaraan jy dalk werk? Nie op hierdie stadium nie. Ons werk aan twee nuwe televisie formate wat n ou maar besig hou en die ure in n dag opvreet.
Vertel ons meer? Die een formaat heet “Foendies”. Dis n algemene vasvra program. Die ander heet “Musiek Roulette”. Dis baie soos Noot vir Noot wat vermaaklikheidswaarde betref.
Hoe lank werk jy al saam met jou span – dit voel soos ‘n leeftyd! Die meeste van die spanlede werk reeds die afgelope 23 jaar op die program. Die program is uiteraard slegs so goed soos die span wat hom vervaardig . En hierdie span kan!
Wat is die lekker deel van Noot vir Noot wat jou opgewonde maak? Die feit dat jy met iets besig is wat n glimlag op mense se gesigte sit.
As mense jou op straat raakloop, wat is hulle eerste opmerking? R50 tjies vir jou ! Kyk hoe kyk jy vir my !! … en die kleintjies; “Hello oom noot”
Oom Noot, Johan Stemmet
Het jy al enige snaakse/aardige fan encounters gehad? Jy kry maar iets van alles. My eienaardigste is as iemand vir jou sê “Jou suster loseer by my oom en tannie”” Nee ek het nie n suster nie, dis seker maar iemand anders” “Natuurlik het jy n suster! Sal my oom en tannie nou vir my lieg” Maar 99% van die tyd wil ouens maar vir jou sê hulle geniet die program of kom met voorstelle vir sangers wat hulle graag wil sien.Baie wil ook hê jy moet hulle op die tv “groet”… “Jy sal nie vergeet nie nê? My naam is Koos Venter… groet sommer my vrou ook. Haar naam is Ansie Venter. ”
Waar sien jy jouself oor 10 jaar? Ek wens ek het geweet… Oor 10 jaar is ek 71 !! Dan sal ons maar sien op watter plek ek sit en kyk hoe die volgende geslag Noot vir Noot aanbied.
Sal daar steeds ‘n Noot vir Noot wees? Solank  ons Noot vir Noot vars en opwindend probeer hou en dit nog gewild onder die kykers is sal ons dit vervaardig.
Wat dink jy is die suksesresep van Noot vir Noot? Die pas van die program, die verskeidenheid speletjies, die uiteenlopende aard en style van die gaskunstenaars en die interaktiwiteit van die program. Almal speel saam.
Hoe sal jy graag eendag onthou wil word? As die ou wat vir soveel jare n beroep uit sy stokperdjie kon maak en hom gate uit geniet het.

Comments