Anton Goosen: Die Liedjieboer se Rumoer

Anton en sy hond, Skye
‘n Mens kan nie help om nederig te voel in die geselskap van Anton Goosen nie. Die bekende sanger, wat ook alom bekendstaan as die ‘Liedjieboer’,  het sedert 1976 diep spore in die Afrikaanse musieklandskap getrap toe hy Jantjie vir Sonja Herholdt geskryf het.  “Die beginjare was wonderlik”, vertel Anton. Ek onthou toe ek die eerste keer Jantjie oor die radio gehoor het. Dit was welliswaar ‘n gevoel van tevredenheid en ook erkenning”.  Hy het ook liedjies geskryf vir Carike Keuzenkamp en Laurika Rauch. In 1979 was sy deurbraak jaar toe sy CD Boy Van Die Suburbs uitgereik was. Dit was Afrikaanse-musiek omwenteling, en dit nogal van ‘n sanger vir wie in standerd nege gesê is daar “geen toekoms vir hom in musiek is nie”. Anton se liedjie Blommetjie Gedenk Aan My word alom beskryf as die “eerste Afrikaanse-rocksong” en hy verwerf die titel as die “Vader Van Afrikaanse-rock.” Sy loopbaan was kleurvol met baie hoogtepunte, maar ook laagtepunte. “1989 tot 1993 was rowwe tye,” vertel Anton. “Die Winde van Verandering CD asook die Houtstokfees waar ek ‘Die Wit Kaffers Van Afrika’ gesing het, het die veiligheidspolisie se aandag getrek. My foon was afgeluister en ouens met gewere het by my optredes opgedaag. “ ‘n Ander laagtepunt was toe hy in 2007 die slagoffer was van ‘n gewapende roof en toe besluit het om hom permanent te vestig in Gansbaai. “Dit is rustig by die see. Kalm en goed vir ‘n mens.” Mense sal dalk verbaas wees om te weet dat hy hom destyds ook bekwaam het as ‘n Suid-Transvaalse sokkerskeidsregter. “Ek is ‘n groot Manchester United ‘fan’”, bieg hy. Op die oomblik is die Liedjieboer besig om aan ‘n nuwe CD te werk wat later vanjaar uitgereik gaan word. “Ek skryf nog daaraan en dit lyk of my omgewing ‘n groot rol gaan speel in die gevoel van die CD, soos aardsheids, verganglikheid, stories en legendes.”

Comments