Elizma Theron se ‘Stilte & Storms’ – sonder twyfel die wag werd

Oor die verstek van 3 jaar sedert haar laaste album het baie goeie dinge en seën Elizma Theron se pad gekruis. Die ryke van hierdie skatkis borrel na bo met haar nuutste album, ‘Stilte & Storms’. Dié is ‘n album wat noukeurig met die hart aanmekaargeweef is en met ‘n wye verskeidenheid musieksmake sal resoneer. Dit vertel van seisoene van die lewe en liefde op ‘n manier wat jou vir al vyftien snitte sal boei en sal meevoer met ‘n fees van woord en melodie. Met geure van Pop, Rock, Country en meer is ‘Stilte & Storms’ - al die pad van snitte wat rustig geniet moet word, tot by dié wat jou voete sommer so spontaan na die dansvloer sal laat koers kies – ‘n tonikum van musikale diversiteit en egtheid.
Snitte soos ‘In ons kombers toegevou’, ‘Giftige woorde’, ‘Ek hoor hoe jou hart breek’ en ‘Nagelaat’ eggo meer intieme en refektiewe gevoelens, terwyl die ritmes van ‘Dink jy nie meer aan my?’, ‘Souvenir’ en die amperse uitspattige parmantigheid van ‘Soen of nie’ die lighartige ewewig aan ‘n keurig-saamgestelde album verleen. Twee prag-duette is ook op hierdie album ingesluit: ‘Sout’, ‘n duet met Nicholis Louw, wat gerat is om een van die jaar se grootste danstreffers te word; en ‘n ‘June Carter Medley’ saam met Ricus Nel, wat enige Country-hart met ‘n driekuns van treffers ‘n punt sal laat trek. ‘Stilte & Storms’ is ‘n lekkerluister-album wat hom ewe goed in ondersteuners wat oor die jare saam met Elizma en haar musiek gegroei het, sowel as diégene wie se eerste album hierdie is, se harte en musiekversamelings sal anker. Die album is nou landswyd beskikbaar.

Comments