Locnville

Locnville
Locnville

Tuesday, 30 September 2014

Steve Hofmeyr gee ons ’n kykie in sy psige en sy nuwe musiek

Jare gelede was daar ’n knaap in die TV-reeks Agter Elke Man met die naam Bruce Beyers (Steve Hofmeyr). Hy was die skorriemorrie in die reeks. Met sy blonde hare en kitaarspel het hy baie vroue se harte laat vermurwe. Hy’t selfs diep in die hart van Antie Stienie (wyle veteraanaktrise Dulsie van Den Bergh) gekruip – die sigaretrokende tannie in die reeks wat in die onderdorp gewoon het. Sedertdien het daar baie water in die see geloop en Steve het ’n huishoudelike naam geword met sy musiek. Die sanger het ’n groot liefde vir die Boland en is baie gewild hier en trek altyd vol sale wanneer hy hier optree.  Op 22 September word Steve se nuwe CD, Toeka 3, uitgereik. Ons het met hom gesels oor sy nuwe CD, sy liefde vir Afrikaans en die sing van Die Stem.  

Toeka 3 word vandeesmaand uitgereik. Wat kan aanhangers verwag? Liedjies wat my as jong man persoonlik geraak het. Soos Pierre de Charmoy, wat my aangeraai het om ernstig ’n loopbaan in musiek te oorweeg. Hy het destyds vir ons troepies op die grens kom sing. Toe weet ek dis die beroep vir my. Dan is daar liedjies soos One Last Kiss (saam met Clive Bruce), My enigste een (saam met Herbie, want Spence is toe al lank oorlede), Kom terug (saam met André Schwartz) en Daar’s ’n plek (saam met Coenie de Villiers). Vir die Stormers is daar die bonussnit Ons bloed bly blou en my nuwe ene, Sit dit aan (’n liefdeslied om die tema van vliegtuie wat deesdae so neerstort). Het ek Die Stem genoem? Ook daar. Altesame so 20 liedjies. 

Jou laaste CD, 25 se bestes, is in 2012 uitgereik. Hoekom so lank wag voor die nuwe een? Ja. Ek probeer die siklus breek van ’n CD per jaar. Dis nie meer nodig nie. Daardie stamina los ek vir die jongeres. Die breek het my die tyd gegee om die wêreld (letterlik) plat te toer. Ons het Pampoen en Agter elke man gesing vanaf Vancouver, deur Klerksdorp tot in Christchurch.  

Jy’t onlangs in Amerika vakansie gehou. Wat verbaas jou die meeste van die Amerikaners? Amerikaners en Australiërs kry die beskawingding reg omdat hulle al so lank besig is daarmee. Dis moontlik effens steriel vanuit ons oogpunt, maar daar is dit nog ’n voorreg om belasting te betaal, want dit kom terug na jou. Natuurlik is Amerikaners nie besigheid nie. Ek sing spesifiek vir Suid-Afrikaners en Afrikaners daar. My konsert verander nie en ek sien hoe die Boere, terwyl ek sing, vir hul Yankee-eggenotes moet vertaal!  

Wat dink jy is die grootste wantasting wat buitelanders van Suid-Afrika het? Ek is meesal verbaas hoe min ons op hul radar konfigureer. Wit Afrikaners is vir Amerikaners ’n duistere begrip. Maar as jy praat van ekspats, is dit verblydend om te sien hulle het ons nie vergeet of afgeskryf nie. Hulle sal selfs terugkom as iemand hulle kan belowe dat daar ’n vreedsame, regverdige toekoms op hul kinders wag. Dit kan ek hulle nie belowe nie. Daarom verstaan ek emigrasie. 

Amerikaners is baie patrioties. Dink jy ons Suid-Afrikaners is? Ons is uiters patrioties. Die bywoning van konserte moet een bewys wees. Ek het ’n organiese opinie van patriotisme en erfenis. Ek glo nie dit kan afgedwing word nie. Mens moet jou taal, kultuur en selfs godsdiens geniet omdat jy WIL, nie omdat jy MOET nie. 

Steve Hofmeyr in Agter Elke Man
Wat is jou boodskap aan dié wat jou gekritiseer het oor die sing van Die Stem by die Inniebos-musiekfees? Ons moet die banvloek op ons kultuurgoedere (wat nie haat en geweld bevorder nie) lig. Mandela self was verantwoordelik vir die grepie daarvan in ons huidige volkslied. Dis ’n gebed soos Nkosi Sikelel’iafrika en niemand vra om die huidige volkslied te vervang nie. Ons vra net om nie kultureel voorgeskryf of gemarginaliseer te word nie. Dit is eintlik baie eenvoudig. Ek sing dit elke aand. Nog nie een enkele aand het die gehoor, oud en jonk, nié opgestaan, hul hand op die hart gesit en fier en trots die woorde saamgesing nie.  

Ons politici sing Kill The Boer, Kill The Farmer en Umshini Wami, maar as iemand waag om Die Stem te sing ontketen dit ’n hele bekgeveg. As jy nie Die Stem sing nie, of ander keer wat dit doen, is jy die soort sissie vir wie demokrasie NIE bedoel is nie. Die grondwet maak dit duidelik dat lirieke wat geweld en haatspraak aanhits, nie wettig is nie. Dit sluit daardie twee tragiese verskonings vir tradisionele liedere uit. Uiteindelik is Die Stem, soos Nkosi, ’n lieflike gebed, maar een spesifiek vir hierdie land geskryf. Dit was ook ’n gedig vir meer as twee dekades voordat dit ’n lied geword het.  

Kom dit nie neer op vryheid van spraak nie? Lyk my die liberale wat die hardste geveg het vir daardie vryheid het vergeet om ons te waarsku dat sekere mense meer vry is as ander. Mens sou dink dis vandag bykans onmoontlik om liedere te verban soos in die vorige regime. Die Stem is nooit verban nie. Ons het maar net geval vir die opvatting alles wat ons doen en is, is sleg. 

No comments:

Post a Comment