Locnville

Locnville
Locnville

Wednesday, 12 November 2014

Laurinda Hofmeyr toor met woorde in die hartjie van die Paarl

'n Kaggelvuur knetter in die sitkamer van die bekende liedjieskrywer en toonsetter Laurinda Hofmeyr se huis hier teen die hang van Paarlberg. Ek sit en verkyk myself aan die ou portrette wat die mure versier.

Teen ‘n muur staan ‘n groot bruin klavier. Dit is by die einste klavier waar Laurinda haar musiek-toorkunsies doen met van die land se bekendste digters, asook lewe gee aan haar eie stories en verhale wat sy deur middel van musiek vertel. “Ek is lief vir die klavier omdat’n mens ‘n hele orkes se musiek daarop kan speel. Met ‘n kitaar en viool is ‘n mens effe beperk.” Sy en haar man, Jantjie, woon al sedert 1995 in die Paarl. “Voor dit was ons vir ‘n jaar en ‘n half oorsee en voor dit was ons ‘n jaar in Pietersburg, pas nadat ons getrou het.”

Die twee se spore loop eintlik verder terug. Sy was in ‘n plaasskool in die Oos-Vrystaat en het in standerd 5 by die Laerskool Lynnwood ingeval toe haar ouers Pretoria toe getrek het. “Toe ek by my nuwe laerskool begin, het ek al die manlike onderwysers Oom genoem,” vertel sy met ‘n lekker lag uit die maag.

Op ‘n dag het sy ‘n gedig in die klas opgesê en die juffrou was so beïndruk, sy het die kleine Laurinda na elke klas geneem om die gedig op te sê, “en dit is waar Jantjie my die eerste keer gesien het – die ‘weird meisie’ wat hierdie lang gedig opgesê het”.  Sy en Jantjie was saam in die Hoërskool Menlopark en eers in standard 8 het hulle mekaar leer ken. “Ek het in standerd 9 besluit om hom nader te hark (lag) en so het ons aan en af uitgegaan tot ons getrou het.”

Die paartjie het in 1995 in die Paarl beland nadat Jantjie ‘n werk by Paarl Hospitaal gekry het en hulle hier wortel geskiet. “Ek geniet die Paarl vreeslik baie,” vertel sy opgewonde. “Die dorp is groot, maar het sy eie karakter, ‘n amperse plattelandse karakter wat ek geniet.” Die Paarl is die hoeksteen van Afrikaans en dié taal lê haar na aan die hart. “Ek is ongelukkig nie eintlik baie goed tweetalig nie. Ek is Afrikaans. Dis die taal wat kleur en tekstuur vir my het, wat nodig is as mens woorde met musiek wil trou.”

Haar liefde vir musiek kom van haar ouers af. “My pa het viool gespeel en my ma klavier en ek onthou nog goed dat ek as kind saans wakker geword en gelê en luister het hoe hulle twee saam musiek maak. Dit was so romanties.”

En dit is waar haar liefde vir musiek begin het. Op hoërskool het sy musiek as vak geneem en het die grade BMusEd. en BMusHons aan die Universiteit van Pretoria behaal. Sy het liedjies vir onder andere Laurika Rauch geskryf, en dit was hierdie toonsettings van gedigte soos Ek Het ‘n Huisie By Die See, Kabouterliefde en vele meer wat Suid-Afrikaners van haar laat kennis neem het.

In 2004 is sy gevra om by ‘n dinee waar oud-president Nelson Mandela vereer is, die Afrikaanse vertaling van ‘n pryslied Vaarwel aan Madiba, geskryf deur oud-President Thabo Mbeki (en in Afrikaans vertaal deur Koos Oosthuizen en Antjie Krog), te toonset en uit te voer.

“In die stadium was ek swanger en tydens my voorbereiding het dit gevoel asof my brein by die venster uitgewaai het. Jantjie was my steunpilaar en het my oorreed om dit te voltooi omdat ek nie gedink het dit gaan werk nie. Die aand van die optrede kan ek met eerlikheid sê was ‘n waas,” (ek kan nie veel onthou nie, ek weet net dit was nie goed genoeg nie, of so het ek gedink.”) Vroeër vanjaar is sy weer gevra om die pryslied te doen “en ek moes dit feitlik heeltemal oor doen omdat ek nie die vorige weergawe kon onthou nie! ”Hierdie keer is sy tevrede met die produk wat baie op Die Burger se webtuiste geluister is. Dis ook op Mandela se verjaardag op RSG gespeel.

Vir die toekoms wil sy steeds betrokke wees by haar dogtertjie, Joanie (8)  en ook meer betrokke raak by die gemeenskap,  “Ek glo vas dat daar nog ‘n te groot gaping tussen ryk en arm is, en die een manier om samehorigheid te bou, is om gemeenskappe nader aan mekaar te bring en musiek kan dit regkry.”

No comments:

Post a Comment