Vir Francois Van Coke is dit alles oor rock ‘n roll


As joernalis in 2003 was dit nogal ‘n tameletjie hoe om die naam van die Afrikaanse rock-groep Fokofpolisiekar in publikasies te gebruik. Baie titels was eng en het verkies om F****polisiekar te gebruik, maar helaas is die regte besluit geneem om die groep se naam te gebruik soos dit alom bekendstaan. In ‘n geselsie met die groep se stigterslid en hoofsanger, Francois Van Coke, het hy ook uitgewys dat die groep se volle naam is Fokkofpolisiekar, en word op geen ander manier gespel nie.

Hoe het jy in die musiekwêreld beland? Ek het na skool Sound Engineering geswot omdat ek eintlik musiek wou speel. Toe ek en die ander ouens (Hunter Kennedy, Wynand Myburgh, Jaco Snakehead Venter en Johnny de Ridder) Fokofpolisiekar begin het, het ek besef ek mag dalk musiek kan speel vir ‘n lewe.

Jy was op Bellville Hoër in ‘n band en het ook in die Battle of the Bands gespeel. Ons band se naam was Hydrint en ek is uit die band geskop na ons eerste show by ‘n Battle of the Bands. Ek dink daar was ‘n ou wat beter as ek kon sing. Ek was ook in ‘n Christen-groep, AS180. Ons het opgebreek want ons sanger het Engeland toe getrek toe ons skool klaargemaak het.

Jy het glo jou van verander toe Fokkofpolisiekar naam begin maak het. Hoekom? My regte van is Badenhorst. Na die eerste artikel oor Fokofpolisiekar in Die Burger het baie mense uit die gemeente na die Pastorie gebel toe om te hoor wat met die dominee se seun aangaan. My pa is ‘n dominee. My ma het toe vir my gevra om ‘n ander van te gebruik as dit by band related goed kom. Ek het toe in ‘n interview gesê my naam is nou Francois van Coke en dit het gestick.

Enige kans vir ‘n nuwe Fokkofpolisiekar-CD? Ons probeer nou al ‘n sedert 2009 ‘n nuwe album maak. Ons sal dit nog regkry en ons het al hier en daar geskyf. Maar op die oomblik is almal besig met ander projekte en bands en ons sukkel om bymekaar te kom en tunes te skryf.

Jy is nou 'n getroude man, so hoe balanseer jy toer en musiek met getroude lewe? Ek is baie by die huis weg en dit is nie maklik nie, maar my vrou Lauren verstaan wat ek doen en ons probeer altyd kwaliteit tyd spandeer as ons ‘n kans het. Ons is 19 Januarie 2012 getroud. Op toer mis ek nie net my vrou nie, maar ook my Britsebulhond, Ringo.

Jy is tans besig met 'n debuut solo CD. Korrek. Ek dink dit is tyd om een uit te bring. Dit gaan rock-musiek wees, maar nie harde rock nie. Daar is al so 13 songs geskryf en ek sal alles goed en gebruik om die beste album moontlik te maak. Alles wat nodig is.

Musiek ‘ piracy’ is deesdae gewild. Hoe het dit al julle ouens geraak? Ons het nog nooit baie albums verkoop nie, so ek dink dit raak mense wat baie albums in die verlede verkoop het meer as vir ons. Daar is baie min waarde in opgeneemde musiek op die oomblik, so ons probeer om songs te skryf wat mense sal aanraak en ook goeie live shows gee.
 
Wat weet mense nie van jou nie? Ek nie kan lieg nie.

Comments