Chris Chameleon: Nuwe Ingrid Jonker album “As Jy Weer Skryf”

Met die toonsetting van Ingrid Jonker se gedigte in 2005 het Chris Chameleon almal verras met een van die mees geliefde en veelbesproke albums wat ooit in Afrikaans uitgereik is. Aanhangers, media en literêre kringe was aan die gons en  het die album “Ek Herhaal Jou” geprys omdat dit Jonker se werk vir `n nuwe en wyer gehoor van luisteraars toeganklik gemaak het.
Aan die begin van 2011 was dit weer, soos elke jaar, tyd vir Chris Chameleon om `n  nuwe album te komponeer.  Hy het begin werk aan sy eie woorde maar het gevoel dat die Jonker gedigte gedurig aan sy hartsdeur bly klop: “Ek het “Ek Herhaal Jou” in`n warrelwind van twee weke gekomponeer en daarna in nog twee weke opgeneem. Sommige snitte het weens tydsbeperkings in die ateljee nie die album gehaal nie. Ek het ook sedertien my liefdesverhouding met hierdie besondere Afrikaanse kultuurskat voorgesit en het nie opgehou om haar werk te ervaar en selfs te leef nie. Die toonsettings het bly kom. Elke keer as ek haar bundels open kom daar iets nuuts tot my, ontdek ek iets nuuts en word ek opnuut geinspireer. In latere albums van my, bv die “Volkleur DVD” of “Klassieke Chameleon”, hoor `n mens gedigte wat nie op “Ek Herhaal Jou” verskyn het nie.”
Chris het toe besef die enigste manier waarop hy hierdie apie gaan stil kry is om te luister en te reageer. Die toonsettings het met gemak gevloei. Die nuwe album “As Jy Weer Skryf” is in Maart by Bellville Studios onder leiding van musiekregisseur Theo Crous opgeneem. “Ek Herhaal Jou” jou was `n baie gestroopte album. “As jy weer skryf” het `n baie voller klank en is meer divers. Daar is selfs n rock, asook `n kinderliedjie opgeneem. 
“As Jy Weer Skryf” bevat 15 snitte en word in Junie deur Rhythm Records uitgereik.

Comments