CD REVIEW: Heinz Winckler - 24/7/365 (Select)

Die CD is goud werd! Ná nege jaar in die musiekbedryf, bied Heinz Winckler sy bewonderaars sy vyfde album – 24/7/365 – ‘n gehalteproduksie met ‘n mengsel van luister-, dans-, saamsing- en selfs ‘n titseltjie saamdink-musiek! Elkeen van die 17 snitte hierop het trefferpotensiaal! Soos altyd is Heinz se ballades gevul met sy suiwer popstem; selfs met meer emosie gepoets. Tussen dié juwele is die snitte 1001 Soene, Ek soek jou, Jy’s net myne en Wat jy nooit sal vergeet nie. Ook met die kolskoot-popsnitte Groter as ons (innige vertolking, musikaal meevoerend, vokaal kragtig en volwasse kontemporêr!), Net soos in my droom,  Wat jy nooit sal vergeet nie, 100%, Alles net vir jou, Dis waar ons begin en die ritmiese titelsnit 24/7/365. Sy stemwerk kry nóg fluweel by in die smeulduet You & I – saam met die blink nuweling Charlize Berg. Die albumstreling word voltrek op die snit My seun, my seën, sy eie skepping, opgedra aan sy seuntjie Lian. Dan gryp Heinz die ritme dié keer met mening en menige feeste en dansvloere gaan bulder op die maat van die sweettapgenietinge Klein bietjie en Sewe dae en nagte: dis stuitige floumaakpret! In Engels verseker hy hernieude nasionale lugtyd op Engelse radio met die liedjies Weight of the world en Blindfolded. Dis die styl wat hom as een van die wêreld se gewildste Idols-sterre nóg gevestig het.

Comments