David Fourie - Pop met skop

Voordat David Fourie welslae as musikant verwerf het, het hy as ‘n bankklerk, ‘n boekwinkel-assistant en pakkies-afleweraar vir ‘n drukkery gewerk. Sedertdien het hy drie albums uitgereik, die trefferleer geklim en goueplaatstatus bereik.
David Fourie is die egpaar Elize en Christo Fourie van Wepener se tweede kind. Hy was ook ‘n voormalige finalis in Idols gewees. David het twee susters, Clare en Lise-Marie. David onthou ‘n tipiese plattelandse kinderlewe. Hulle het toktokkie gespeel, die bure se vrugte gesteel en met die fiets van die hoogste helling afgejaag en hulself stukkend geval. Sy familie en vriende noem hom Davey, afkomstig van die tekenprent Davey Crocket. David het die plaasgemeenskap geniet en gereeld by vriende op plase gaan kuier en sedert die Fouries self plaas toe getrek het, bring David vakansies by sy ouers deur.
David het altyd in musiek belangestel. Hy was ‘n uitstekende sportman en het uitgeblink in tennis, hokkie en rugby. In ‘n stadium wou hy graag ‘n professionele gimnas word, maar hy het gou besef hy was te lomp. Hy het op nasionale debatvlak presteer, klavierles geneem, aan revues deelgeneem en in die Bloemfonteinse Kinderkoor gesing.
Teen sy sestiende verjaarsdag het hy geweet hy wil ‘n lewe uit musiek maak. Ná matriek het hy wel Netwerk-ingenieurswese en toe BSC Rekenaarwetenskap deur Unisa geswot. Hy het egter opgeskop om in 2003 vir Idols in te skryf. David erken dat hy graag die beste kunstenaar wil word wat hy kan wees en hy wil ook graag sy eie standaarde oortref. Gee gerus sy CD Die Eerste Dekade 'n luister. Dit bevat 19 snitte van die David se beste snitte en is regtig pop met skop!

Comments