Heinz Winckler gesels uit sy hart

Heinz Winckler
The Beat het by bekende sanger Heinz Winckler gaan aanklop en hom bietjie uitgevra oor sy nuwe CD 24/7/365, sy seun en wat die regte bestandele is om 'n ballade te skryf!

Wat beteken die titel van die CD, 24/7/365? Dis die titel van een van die liedjies op die nuwe album en dit gaan oor hoedat 'n mens die meeste van elke oomblik moet maak aangesien tyd vinnig verbygaan, en hoedat die ideaal is om elke oomblik te gebruik om vir jou vrou te se hoe lief jy is vir haar. En dit is nie net in woorde nie, maar ook dade en in hoe jy haar hanteer.
Hoe lank werk jy al aan die CD? Ek werk al aan song idees vir so 8 maande, maar die intensiewe skryf, pre-vervaardiging en vervaardiging proses het van Maart tot einde Junie geneem.
Jou ballades klink weereens na reuse treffers. Wat dink jy is die regte "ingredients" vir 'n suksesvolle ballade? Ek het nog net Engelse ballades gedoen voorheen, en ek wou graag op hierdie album 'n paar Afrikaanse ballades inwerk en sien hoe mense reageer daarop. Ek dink dit moet 'n sterk liefdes tema he, 'n sterk en mooi melodie lyn wat ook "catchy" is, en die verwerking en vervaardiging moet 'n baie groot klank skep - akoustiese kitare in versies, gebruik van klavier, viole, epiese elektriese kitare - veral in koor gedeeltes, asook groot koor-agtige agtergrond stemme.
Ons sien jy sing ook saam met Charlize Berg. Hoe en waar het dit gebeur? In Januarie 2011 het my platemaatskappy 'n geleentheid gehad om 'n lied aan Mnet te tender vir hulle Feb maand "movie montage" advertensie. Hulle het 'n oorspronklike, sterk liefdes ballade gesoek. Ernst Kleinhans het die lied 'n middag geskryf. Hulle het my die Vry gebel oor die idee, gese ek moet dit saam met Charlize doen, dat ons daardie Maandag 10:00 die vocals moet opneem en 12:00 die video materiaal sodat hulle die lied aan Mnet kan gee teen die Woens! Hulle het toe ook die song na radio geneem, en teen ons verwagtinge het mense mal gegaan oor die song en dit het 'n groot treffer geword.
Hoe dink jy verskil jou nuutste uitreiking van jou vorige CD's? Dit is vir my lekker om te ervaar hoe dat ek groei met elke album soos wat ek groei met elke optrede. Die aspek waarin ek groei waaroor ek die meeste opgewonde is, is my liedjieskrywery. Ek het op hierdie album die meeste nog as skrywer bygedra en ek's baie gelukkig daaroor. Die voordeel daarvan is dat 'n mense uiteraard dan 'n unieke klank kry in die rou materiaal van die album - die liedere, die hoof boustene van jou album. Indien die songs sterk is, vervaardig hulle amper hulleself. So ek dink hierdie album bou mooi op "Ek Kan Weer In Liefde Glo" en neem dinge 'n stappie verder. My uitgangspunt, asook die talentvolle mense saam met wie ek gewerk het op die album, is om die standaarde met elke album te lig. Om binne die bree Afrikaanse pop/rock genre oorspronklik te wees. Ek glo ons het dit reggekry met hierdie album. Nou moet ons sien of my gehoor saamstem...
Vertel ons 'n bietjie van die liedjie "My Seun, my seen" - dit is voorwaar 'n diamant van 'n snit! Baie dankie! My skoonsus het my kort voor Alette se ooievaarstee gevra hoekom skryf ek nie vir Lian 'n lied en verras vir Alette daarmee op die ooievaarstee nie? 'n Goeie vraag en toe 'n lekker uitdaging. Ek het eers gedink "Hoe moeilik kan dit nou wees?", maar het gou besef watse groot taak dit is om iets van ewigheidswaarde vir jou seun te skryf. So ek het die betekenis van sy naam, wilgerboom, en die skrif wat daarmee gepaard gaan, Jes. 17:7,8, gebruik as die boustene vir die lirieke. Die melodie het net spontaan gekom.
Hoe dink jy het pa-wees jou as sanger/liedjieskrywer beinvloed? Ek is nie heeltemal seker nie, maar ek ervaar definitief 'n groot toename in my selfvertroue en vermoe om te skryf die laaste jaar. Ek kan nie help om te dink dat pa wees deel is daarvan nie.
Behalwe sing, watter ander projekte werk jy aan op die oomblik? Enige TV- of fliek-rolle wat weer om die draai wag? Ek is hoofsaaklik buite my eie sang loopbaan besig met die "Heinz Winckler Workshop" vir aspirant sangers waar ek "wannabe" sangers help om te verstaan hoe die musiek industrie werk en wat hulle in plek moet he om 'n beter kans op 'n suksesvolle loopbaan te staan. Ek en 'n vervaardiger vriend van my, Helmut Meijer, het ook die "Meijer-Winckler Future Sound Architects" kursus begin waar ons "wannabe" vervaardigers, sangers en liedjieskrywers wat in 'n "home-studio" wil musiek maak en dit aan die wereld wil bekend stel, help om dit so professioneel as moontlik te doen met Pro Tools. Die filosifie is dat jy met "A Mac, a mic, anywhere, anytime" hoe kwaliteit musiek kan vervaardig met die regte kennis en opleiding. Ek het nie op hierdie oomblik enige toneelspel rolle nie, maar ek hoop ek kry gou weer die geleentheid, ek geniet dit baie.

Comments