Sarah Theron – Uit volle bors

Die bekende sanger en verhoogkunsternaar Sarah Theron wil hê elke vrou moet uit volle bors saamsing as daar na haar nuwe CD, STORM in 'n D-Cup geluister word. The Beat het by haar gaan inloer.

Ons sien die titel van jou CD en dit laat my op die plek aan my Ouma dink wat altyd gepraat het van "rowwe water in 'n teekoppie". So, vertel ons waar kom die titel van die CD vandaan? Jou ouma het die spyker op die kop geslaan! Die titel van my nuwe album, STORM in 'n D-Cup gaan juis oor daai "rowwe water", en hoe mens jouself op droë land kry, of nie!! Dit verwys ook na die persoon self, natuurlik...dis ek en almal daarbuite. Ek probeer hier my plig nakom deur myself en ander te herinner aan ons eie krag. Ons is almal soveel sterker as wat ons partymaal dink.

En die D-Cup? Die D-Cup swaai die saak nou bietjie meer na ons vrouens se kant toe. Ek wil hê elke vrou moet uit volle bors saamsing met hierdie CD ;)

Die musiek op die CD is hemels - geluk! Dis asof 'n persoon agteroor kan sit en na jou stem luister en elke noot en liedjie vreeslik geniet. Dis asof jy praat met jou aanhangers. Hoe het jy te werk gegaan om die snitte te kies en keur? Dankie vir jou mooi woorde!! Ek is maar 'n tipiese Taurus...neem vir ewig om iets te besluit, maar storm dan kop eerste in. Vir my was die keuses van materiaal vir STORM in 'n D-Cup nie 'n baie serebrale proses nie. Ek het op gevoel die songs gekies en gereken as dit my hart aanraak, sal dit hopelik dieselfde doen vir ander mense wat luister. Ek was gelukkig om lieflike songs te kry by die mense wat gewoonlik vir my skryf: Bietjie meer van jou (Rian Swanepoel / Carlé van Deventer), Ek wonder (Fredi Nest) en was dan ook geseën met Stef Kruger se wonderlike talente in Doverstofie. Verder het ek die songs opgeneem waarvoor mense my gevra het. Die songs kom almal uit my hart en ek sing hulle elke keer met oorgawe - dis my voorreg en plesier om myself elke keer te kan "vry sing" met hierdie album - en hopelik sommer 'n paar ander mense ook!!

Ek sien daar is 'n heerlike paar bekende liedjies op jou CD wat jy sing. Hoekom die liedjies en hoe gee jy dit jou eie geurtjie? Oor die afgelope paar jaar, was daar songs in my konserte wat net deel geword het van wat ek doen. Die mense het verwag om hulle te hoor, ook en dit was dus my beurt om iets terug te gee aan my ondersteuners deur uiteindelik 'n antwoord te hê op die vraag: " Op watter album is Purple Rain en Gloryland?" Elkeen van hierdie songs het 'n storie van hoe dit in my lewe inpas - sekerlik vir elke lid van die gehoor ook - en daarom is dit vir my belangrik om hierdie songs ook neer te sit op opname - 'n soort van foto-album te skets van wie en wat ek is en waar ek vandaan kom.

Na watter musiek luister jy graag en watter musiek het 'n groot impak op jou loopbaan gehad? Die grootste invloed om my vertolking as "storieverteller deur songs", moet Bette Midler wees. Sy het my aangegryp die eerste keer toe ek haar gesien en gehoor het. Ons het almal met Min Shaw en Groep Twee grootgeword, maar ek moet verklaar dat my wêreld heeltemal omgekeer is die eerste keer toe ek Donna Summer gehoor het oor die radio....was van kleins af ook mal oor Chicago, Boston, en al daai rock bands - my agtergrond is Blues en Rock - dis my huis.

Ons sien jy sing saam met Manie Jackson. Hoe het dit gebeur en hoekom hy? Ek het besluit om een klassieke countrysong op te neem en na 'n lang gesoek, het ek Roy Orbison se Crying herontdek. Ek gewaar toe ook 'n weergawe wat hy saam met KD Lang opgeneem het, maar het nie baie van die verwerking gehou nie, aangesien hulle nooit werklik saamgesing het in die outydse sin van die woord nie. Ek begin toe werk aan idee om hierdie 'n ware duet te maak, en nadat ek dit in my vervaardiger, Murray Lubbe se hande gesit het, het my droom waar geword. Manie was die ooglopende keuse vir my, aangesien hy daardie lieflike ou-skool-klank het, en boonop 'n massiewe passie vir Country het!! Ek's baie, baie trots op hierdie opname.

Waaroor sing jy graag? Waaroor gaan jou musiek in die algemeen? Ek sing graag oor onderwerpe wat dalk al jare in musiek voorkom, maar tradisioneel nie deur vroue aangepak word nie. Ek dink dis tyd dat vrouens hulle harte uitstort in musiek, sodat die ander helfte oor so 20 jaar nie meer kan sê dat hulle nie weet wat in ons koppe en harte aangaan nie!!

Jou grootste loopbaanhoogtepunt tot nou toe? Elke lied, elke ontmoeting met 'n musikant, elke keer as ek in iemand se oë kyk en ek sien dat hulle my "kry", is 'n hoogtepunt vir my. Ek het baie sulke oomblikke beleef met hierdie album tydens opnames - dis dalk hoekom dit my so na aan die hart lê. Ek was bevoorreg om met die mees vreeslose vervaardiger ooit te werk en die musikante het hulle alles uitgestort in wat hulle gespeel het. Dis 'n geskenk wat mens nie sommer gou vergeet nie.

Wat laat jou lag en wat laat jou huil? Songs laat my lag en huil. Ek vergeet nooit 'n noot wat ek gehoor het nie...Dit bly vir ewig deel van my bewussyn en ek onthou vir ewig hoe ek gevoel het toe ek dit die eerste keer gehoor het. Ek's maar so. My kop is vol note - and nothing much else, I might add... Ja mense laat my ook lag en huil, maar nie so lekker soos musiek nie!!

Wat maak jou moerig? Meestal myself? Maak dit sin? Mens sou lekker kan lewe as jy ander kon blameer vir alles wat verkeerdloop elke dag, maar uiteindelik is ons reaksie op gebeure wat ons maak wie ons is - partydae voel ek regtig ek moet terug skool toe....Ja ek kan lekker vies raak vir myself.

Wat weet mense nie van jou nie? Daar's baie wat mense nie van my weet nie, hoor!! Ek het 'n paar vriende wat my hart ken, die res raai maar - en ek hou daarvan om dit so te hou. Goed, ek byt - ek moet nou iets uitlap...laat ek dink - goed,  (ek sê dit eintlik in my nuwe song STORM in 'n D-Cup..." jy weet jy lyk sterk, al is jy nie altyd oraait nie) hier's een: Ek het baie meer hulp nodig as wat mense ooit sou kon raai. Net omdat ek sterk lyk (en is) en aan die woel is, beteken nie dat ek noodwendig alles alleen wil doen nie. Sjoe!! Dis diep!! Maar waar.

Hoe en waar kan mense uitvind van jou optredes?
Ek het 'n webtuiste www.sarahtheron.co.za waar mense kan gaan loer en ook navrae oor besprekings doen, maar is elke dag baie besig op Facebook. Hulle moet net my naam soek en by my iLIKE-blad aansluit. Ek skryf gereeld daar oor al my konserte en doen en late.

Comments