Snotkop praat pront-uit

Francois Henning, of te wel Snotkop soos derduisende aanhangers hom ken, se jaar tot op hede was vol hoogtepunte en ook baie laagtepunte. Die oulike sanger praat met The Beat oor die afsterwe van sy pa, sy liefde vir sy ma en hoekom hy so baie van Carike Keuzenkamp hou! Hy praat ook oor sy heerlike nuwe paartie toer wat November afskop...

Wat dink jy is die een groot verskil tussen jou CD Ek Laaik van Jol en al die jou vorige uitreikings?
Ek laaik van Jol is meer kommersieel, het ‘n baie sterker pop/dans aanslag en daar is ‘n paar dieper en ernstiger liedjies op.

Hoe lank het jy geneem om die CD op te neem?
Omtrent 6 maande

Jy het ook van platemaatskappy verander (van Next Music na Select Musiek) - hoekom?
Dis belangrik om te groei en Select was die volgende stap in my loopbaan, ek is tog baie dankbaar vir die rol wat almal in my loopbaan speel .

Die titel van die CD is Ek Laaik Van Jol. So vertel ons 'n bietjie, waar jol jy, wat like jy om te doen as jy jol?
Die album se title het ‘n dubbel mening. Dit praat obviously van lekker paartie maar ook om die lewe te vier, elke dag asof dit jou laaste is. Ons is geneig om soms op die negatiewe te fokus, te wil baklei en ongelukkig wees,  maar ek verkies om eerder gelukkig te wees en om alles te celebrate, om alles te beleef asof dit jou eerste keer is. As ek nou wel gaan jol, is dit lekker om saam met my vriende by iemand se huis bymekaar te kom, ‘n legendariese pool party aanmekaar te slaan, braai, tequila en lekker musiek!

En as jy nie jol nie, hoe ontspan jy?
Gewoontlik na ‘n rowwe naweek van shows, pass ek uit voor my TV. As ek ‘n paar dae af het hou ek daarvan om dinge te doen waarvoor ek gewoontlik nie kans kry nie soos om by my ma te gaan kuier of te gaan fliek of net rustig te verkeer by my huis. Andersins sal ek na my plek in die Vrystaat gaan en tyd in die natuur spandeer, perdry en sterrekyk.

Jy het die afgelope jaar jou pa aan die dood afgestaan. Hoe het jy dit verwerk?
Dit was en is steeds moeilik, dis die eerste keer wat ek iemand baie, baie na aan my moes afstaan. Ek het altyd gedink ek sal nie cope as dit gebeur nie, dat my hele wereld ineen sou stort. Ek het daardeur gekom en werk steeds vandag daaraan. Ek het besluit om eerder sy lewe en die tyd wat ek saam met hom gedeel het te vier met die wete dat hy sou wou he ek moet gelukkig wees. Ek mis hom vreeslik, ons was ‘n baie hegte familie, en baie dinge het nou verander. Dis ongelooflik moeilik maar ek het so baie geleer hierdeur. My pa het tot sy laaste dag my ‘n sterker mens gemaak en ek is dankbaar daarvoor.

Ek neem aan die liedjie Song vir my Dad is aan hom opgedra.
Ek dink soos baie Afrikaanse seuns en mans is dit moeilik om ons gevoelens bekend te maak, veral teenoor ons Pa’s. Ek weet dit het my jare gevat voor ek vir my Pa kon se ek is lief vir hom, gelukkig het ek dit reggekry ‘n paar jaar voor hy dood is. Op sy sterfbed het ek dit ook vir hom gese en hom ook laat weet dat ek baie dankbaar en trots op hom is. Dat ek ook na my Ma sal kyk en dat ek hom nooit sal vergeet nie. Ons moet nie bang wees om te gesels oor ons emosies nie, want nie almal word die kans gegun om soos ek vir my Pa te kon se dat ek lief is vir hom  voor hy sterf nie. Song vir my dad het ek geskryf met die wete en dat hy altyd by my sal wees in gees en dat hy altyd my rots was en steeds is.

Wat sal jy altyd onthou van jou pa?
My Pa was ‘n ongelooflike man, hy het ons soos goud opgepas. Hy het my altyd ondersteun in my loopbaan en hy is een van die redes hoekom ek sukses behaal het. Hy het nooit vir my gese dat my droom te groot is of dat ek dit nie sal maak nie. Hy het hard gewerk om vir ons te voorsien en sodat ek my passie kon volg, ek sal home ewig dankbaar wees daarvoor. Ek streef daarna om soos my Pa te wees, hy is my held.

Wat is die grootste lewensles wat hy vir jou geleer het?
Met sy dood het hy  seker die kosbaarste les geleer, en dit is om die lewe te geniet en om daagliks vir jou geliefdes te se jy’s lief vir hulle. Om te weet dat niks belangriker is as liefde nie en dat ons mekaar moet bystaan in die wereld. Ons spandeer soveel energie om kwaad te raak, om te baklei en dinge vir granted te vat. Vandag is ek dankbaar vir alles, elke dag is ‘n wonderwork en my doel is om die beste tyd te he wat ek gegun is op hierdie aarde en te sorg vir my mense.

Om terug te kom by die CD, die liedjie Dis 'n Land bevat die gewilde koorgedeelte van Carike Keuzenkamp se liedjie van dieselfde naam. Hoe het jy besluit om die liedjie jou eie te maak en wat beteken die song vir jou?
Ek toer vreeslik baie die hele land vol, ek is gelukkig om elke dorpie en sy mense te beleef, ek het meer en meer besef ons het ‘n ongelooflike mooi land. Landskappe verander van die Kaap tot in die Vrystaat, die een net so mooi soos die ander. Ons kultuur en tradisies los ‘n warm gevoel in my hart en ek weet ek is tuis. Die song is ‘n reis wat begin in my kinderdae van wat ek sintuiglik onthou, die dae wat ek gedroom het om soos David Kramer te wees as jong laaitie, waterlemoen en potjiekos in die somer en in my later jare, die roadtrips deur Namakwaland en die sterre in die klein Karoo. Ek sal die plek vir niks verruil.

Wat weet mense nie van Francois Henning nie?
Ek is eintlik stil, mense dink ek is ‘n ekstrovert, wild en loud, ek is redelik sensitief en ‘n introvert, totdat ek op die verhoog klim! Dan is daar niks wat my keer nie!

Gaan jy bietjie toer met die CD? Indien wel, waar en wanneer?
My jaar is propvol vertonings, elke naweek toer ek na ‘n ander dorp, my nuwe konsert met die nuwe material van die nuwe album word tans by elke show opgevoer. Ons is wel besig om die SNOTKOP JOL TOER aanmekaar te sit, wat op ‘n paar dorpe deur die land opgevoer gaan word, met amazing beligting, graphix en dansers. Hopelik sal die eerste een in November die lig sien. Ander datums waarna ek uitsien hierdie jaar is natuurlik Skouspel, die hele Desember toer asook Hart van Windhoek (saam Westlife) maar elke liewe show is vir my soos my eerste!

Comments

Post a Comment