Albert de Wet & 7de Laan

Albert de Wet
Noem hom sommer die Prins van Pretoria. Sanger Albert de Wet, wat in Pretoria gebore is, het die land aan die gons op die oomblik met sy vuurwarm treffer 7de Laan, van sy CD Die Vensters na my Siel. Die musiekvideo vir die liedjie is ook op die stel van die gewilde SABC2-sepie verfilm. The Beat het met hom gesels oor sy CD, 7de Laan en ook sy liefde vir krieket.

Jou CD Die Vensters na my Siel is 'n juweel! Baie geluk. Hoe verskil die CD van jou vorige CD's? Ek is meer ervare as mens en skrywer. Ek wou bewys dat ek nie net ballades kan skryf nie. Dus het ek 'n ander kant van myself as skrywer ten toon gestel en het doelbewus elemente in die skryf proses ingebring waarmee ek nog nie voorheen geeksperimenteer het nie. Daar is byvoorbeeld baie meer storieliedjies op die album en selfs 'n country inslag in van die liedjies. Dit het baie harde werk in die ateljee geverg aangesien ons steeds 'n unieke "Albert de Wet" klank moes behou, maar ek voel ons het goed gedoen en ek is baie trots op die eindproduk.

Kan jy die titel van die CD asseblief verduidelik? Dis baie eenvoudig. Of jy as skrywer daarvan hou of nie, dis onafwendbaar dat daar iets van jouself en jou persoonlike lewe in die musiek sal wees. Dus gee ek aan die luisteraars 'n kyk (of 'n luister) na wie en wat ek werklik is en wat in my siel is. Ek wou aanvanklik met die skryf van die album totaal en al weg beweeg van liefdesliedjies, maar toe ek eendag op my kitaar speel en die melodie van "Die vensters na my siel" ontdek het  ek onmiddellik geweet dit gaan 'n liefdeslied wees en dit gaan op die album wees. Toe besef ek dat ek as skrywer nie noodwendig kan kies wat ek wil skryf nie. Ek kan uiteindelik kies wat ek op my cd's sit maar die skryf proses is grootliks iets wat onwillekeurig binne in my gebeur. Dus "Die vensters na my siel".

Wat anders het jy gedoen in die opname proses wat jy nog nie van te vore gedoen het nie?
Ek het met country elemente geeksperimenteer. In rock musiek word daar 'n paar kitaar lae neergele om 'n vol klank te kry. In country musiek gebruik hulle meer instrumente en almal speel net wat nodig is om die musiek te komplimenteer en dus kry hulle 'n vol klank sonder om oordrewe kitare ensovoorts in die musiek te he. Dit was aanvanklik baie moeilik omdat my musiek op kitaar geskryf word en absoluut kitaar gedrewe is, maar ek is baie bly ek het die eksperiment aangepak want ons het sodoende 'n vol en kommersiele klank gekry sonder om musikaal "uit te verkoop". Ek sal in die toekoms ook so te werk gaan.

Jou liedjie 7de Laan is heerlik. Vertel ons meer oor die liedjie en is jy 'n fan van die sepie? Daars 'n Engelse gesegde "good songs produce themselves". Well ek dink goeie liedjies skryf hulleself ook. Ek het letterlik een oggend wakker geword, die kitaar opgetel en onmiddellik die kitaar melodie begin speel. Die liedjie het my nie meer as 10 minute gevat om te skryf nie. Dis asof dit vir my gestuur is. Ek dink die idee het erens in my onderbewussyn begin broei omdat my meisie se ma 'n groot 7de laan kyker is en ek deur haar die storie begin volg het. Toe ek weer sien vind ek dat ek die storie lyn presies ken en emosioneel betrokke raak. Miskien het ek sonder dat ek dit weet van 7de laan gedroom die nag voor ek dit geskryf het... Wie weet.

Wie is jou gunsteling 7de Laan karakter? Ek het nie werklik 'n gunsteling karakter nie. Paula en Oubaas staan natuurlik uit!

Die video van die liedjie is ook op die stel van 7de Laan opgeneem. Hoe lank het julle opgeneem en waar ooral op stel het julle opgeneem? Ons het 2 dae lank opgeneem. Net om die stel  te sien was 'n belewenis. Ons het met die hele band in oppikoffie gespeel. My solo sang toneel was in die boutique en die orkes se tonele was op van die ander gedeeltes op stel. Elke af en toe gebeur daar iets wat dit werklik spesiaal maak om 'n musikant van beroep te wees. Dit was vir my ongelooflik. Die 7de laan span het ons soos goud hanteer en ek sal verewig dankbaar wees vir die geleentheid!

Enige van die 7de Laan akteurs wat dalk in die musiekvideo verskyn? Ongelukkig nie. Maar die video het wel 'n oulike storie lyn en akteurs.

Wat is jou gunsteling liedjie op Die Vensters na my Siel en hoekom? Katrina van die Bo-Kaap. Dis 'n gedig wat ek getoonset het. Ek dink elke skrywer is altyd op soek na die liedjie waarop hy/sy verewig trots sal kan wees. Katrina van die Bo-Kaap is dit vir my. Die woorde het van dag een af met my gepraat en ek voel die musiek wat ek daarvoor geskryf het komplimenteer dit en dra perfek by tot die emosies wat deur die lirieke beskryf word.

Wat inspireer jou om lirieke en musiek te skryf? Dis altyd 'n moeilike een. Ek glo dat liedjies skryf grootliks iets is wat jy het of nie het nie en dat dit ook grootliks onbewustelik plaasvind. Ek dink die skryf proses is grootliks net die neerskryf van 'n idee wat reeds in jou kop gevorm het. Ek probeer dus myself aan soveel nuwe dinge as moontlik blootstel. Dis soos 'n bom wat net 'n vonk nodig het om te ontplof. So het mens net die eerste basiese idee of inspirerende gebeurtenis nodig en daars 'n liedjie! Ek lees baie oor enigeiets wat ek in die hande kan kry op die internet. Dit gee my gereeld nuwe idees.

As jy nie musiek maak en optree nie, hoe ontspan jy? Ek het in die verlede baie gelees maar het deesdae nie meer tyd daarvoor nie. Ek weet dis 'n vervelige antwoord maar ek geniet tyd saam vriende en familie. 

Wat weet mense nie van jou nie? Ek is die grootste krieket fanatikus in die wereld. Ek is een van daai mense wat vir 5 dae voor die tv kan sit en elke bal van 'n toets wedstryd kyk EN MAL WEES DAAROOR!!!

Jou planne vir die res van die jaar? EMI raak ook nou betrokke by die album so ons gaan dit her-uitreik met 'n nuwe omslag. Dit sal steeds dieselfde liedjies op he. Verder gaan ons die album soveel as moontlik bemark en ek gaan soveel as moontlik optree.

Enige idees wanneer jy gaan begin opneem aan 'n nuwe CD? Ek skryf tans BAIE. So hopelik binnekort. Ek moet nog net die laaste paar veranderingtjies aan 'n paar liedjies maak en dan kan opnames begin!!!

Comments