Bittereinder - Hup Holland Hup!

Bittereinder
Die manne van die Afrikaanse alternatiewe-groep Bittereinder is besig om hulle tasse te pak vir 'n toer na Holland. Hulle musiekvideo vir die snit Slechte mense, saam met die Nederlandse kletsrymer Tim Beumers, het sulke groot sukses behaal dat die manne genooi is om in Nederland te gaan optree, saam met Arctic Monkeys, Underoath, The Roots, Offspring, Skunk Anansie en Fleet Foxes om net 'n paar te noem. Bittereinder sal ook hul dinamiese lewendige optrede na die pragtige Paradiso Club in Amsterdam bring op 19 Augustus. Halfpad deur 2011 het Bittereinder begin werk aan nuwe materiaal vir hul hoogs afgewagte tweede album en die waarskynlike eerste enkelsnit “Die Dinkdansmasjien” is reeds besig om groot golwe by optredes te maak.
Bittereinde toer-poster na Holland
Jaco, Peach en Louis van Bittereinder is van Pretoria en het in 2010 hul suksesvolle CD, 'n Ware Verhaal, uitgereik. Die musikale, liriese en visuele idees wat deur die album sowel as die eerste twee musiekvideos geprojekteer word, het die verbeelding van ekstatiese nuwe aanhangers en die pers aangegryp en nog nie laat los nie. Die bewyse lĂȘ daarin dat Bittereinder as “the next big thing” ingelui is nog voor hul een lewendige optrede kon doen. Met hierdie aansteeklike afwagting klim Bittereinder op hul eerste nasionale toer en vaar sewe stede in vier maande in. Dit sluit ongelooflike optredes by RAMfest, KKNK en Oppikoppi, drie van Suid Afrika se grootste feeste, in. Hierdie paar optredes het gehore betower en skeptici oor Afrikaanse kletsrym omgeskakel na “hard core” aanhangers. Die album, wat smaakvolle samewerkings met Jack Parow, Tumi Molekane (van Tumi & the Volume), Inge Beckmann (Lark), Richard Brokensha (Isochronous/kidofdoom), Sev Statik (Deepspace5, van New York) en Nederlandse kletsrymer Tim Beumers insluit, het verdere lof ontvang deur die SAMA (South African Music Award) vir “Best Alternative Afrikaans Album of 2011” te wen.

Comments