Gerhard Steyn - Tien van Harte

Gerhard Steyn
As Gerhard Steyn sy troefkaart op die tafel sit, is dit alles behalwe 'n gelukskoot. Harde werk, ysere dissipline en 'n passie vir perfeksie is deel van sy strewe met elke album. Dié dat hy aan sowat 120 liedjies geskaaf en helpskryf het en toe die room afgeskep het voordat sy jongste en vyfde album, Tien
van harte, die winkelrakke kon tref.
Die sanger van treffers soos Baby Tjoklits en Diamante vir jou – wat verledejaar deur Exactmobile as die no. 1 aflaaibare liedjie van 2010 aangewys is – meen die nuwe CD gaan sy aanhangers verras. Die album bevat twaalf liedjiesasook 'n bonussnit, wat Steyn se opname van die Huisgenoot Tempo-liedjieskryfkompetisie se Spore in die lug is.
Die verrassing is egter dat twee liedjies duette met geliefde en bekende kunstenaars is. Rooi roos (Tien van harte) is 'n duet wat hy saam met Nádine opgeneem het. “Nádine het vir iemand in die bedryf gesê as sy 'n duet wil doen, wil sy dit saam met my doen. Toe hulle my genader het, het ek gevoel die tyd is reg,” vertel Steyn.
“Die tweede duet saam met Richard van der Westhuizen (van die reeds immergroen treffer Tussen treine) was vir my amper vanselfsprekend. Ek is 'n groot aanhanger van Richard – as ‘n liedjieskrywer en sy musiek.”
Om 'n gunsteling op twee op die album uit te sonder, is vir Steyn soos een van die sewe doodsondes. Sy liedjies is soos kinders en hy trek nie een voor die ander nie. Tien van harte skop af met die polsende Riviere swem en word dadelikgevolg deur suiwer liefdestreffers soos Jy weet hoe om my vas te hou en Goud en silwer. Laasgenoemde beloof om saam met Miljoene soene en Dimpels derduisende musiekliefhebbers se voete te laat jeuk en hul luidkeels te laat saamsing.
“Ek glo nie daar mag net een goeie liedjie op 'n album wees nie,” sê die sanger wat reken dat hy sedert sy sangdebuut ongelooflik gegroei het – ook as liedjieskrywer. “Elke album voel weer soos die eerste. Daar is dieselfde opgewondenheid. Ek wonder net elke keer wat die publiek as treffer gaankies.”
Steyn se liefde vir musiek het in sy oupa en ouma se voorhuis begin toe hy gesien het hoe sy ma se broer wat 'n laatlammetjie en net ses jaar ouer as hy was geoefen het om aan talentkompetisies deel te neem. Sedertdien streef hy om as musikant in eie reg net sy beste te gee. Met Tien van harte, lewer hy 'n
tien-uit-tien-musiekproduk wat beloof om weer eens 'n troefkaart in die treffersparades te wees.

Comments