Jan Blohm - Lotus DVD

Jan Blohm
Die nommer sewe is 'n heilige nommer wat volledig, vol en perfek beteken – simbolies van die voltooiing van 'n siklus. Met die uitreiking van Jan Blohm se tweede DVD in sy sewende jaar as verhoogkunstenaar, durf dié simboliek nie die kyker verbygaan nie. Het hy nie juis al 'n album met die amper profetiese titel 7 Jaar die lig laat sien nie?
Lotus: Live DVD is in Junie 2011 in Die Liedjieboer, Midrand, voor 'n gehoor opgeneem en is 'n toonbeeld van die rockdigter en verhoogfilosoof se verbysterende talent, wat hy vir die heel eerste keer in 2004 met die Suid-Afrikaanse publiek gedeel het.
Dié intieme konsert is 'n samekoms van gunsteling-liedjies van CD’s soos Melkstraat Confessions, 7 Jaar en Stille Runaway, maar is veel meer as net 'n goue gerf treffers. Dit sluit ook twee splinternuwe skeppings – Ruby en Ons huisie – in. Lotus is soos 'n kuier-aand saam met Blohm, terwyl hy omring is deur van die land se voorste musikante. Van Anton L’Amour (op kitaar) en Riaan Diedericks tot Chrismari Nel en Martin Labuschagne deel die verhoog met hom, terwyl Brenda Biddulph en Elrine Spies die agtergrondsang verskaf.
Blohm is spitsvondig en selfs satiries, met komiese stekies wat mildelik uitgedeel word. Hy noem byvoorbeeld dat hy altyd gedink het dat mense wat hemel toe gaan, Potchefstroom toe gaan... Totdat hy besef het hulle gaan eintlik Stellenbosch toe! Die titel van Blohm se nuwe DVD het verskeie betekenisse, op verskillende vlakke. Die lotus is die enigste blom wat in vuil, modderige water ver van die son groei en dan met 'n onaantasbare skoonheid verras. Vir Blohm is dit 'n metafoor vir die lewe. “Dit maak nie saak hoe sleg en moeilik 'n mens se lewensomstandighede is nie, 'n mens het steeds die vermoë om uit te styg en een van die mooiste blomme te wees,” vertel die sanger met die skerp tong en pen.
Die digter Breyten Breytenbach was sedert Blohm se jeug 'n besonderse inspirasie. Breytenbach het in die jare 70 'n digbundel getitel Lotus onder die skuilnaam Jan Blom gepubliseer. Vandaar dat Blohm die karakter Jan Blohm aangeneem het en as sy verhoogpersona gekies het. Liedjies soos Groen trui en Breyten se brief is dus deel van die DVD-konsert om hierdie rolmodel te huldig.Lotus: Live DVD is ver van 'n deursnee-rockkonsert. Dit is 'n energieke musiekreis saam met een van Afrikaanse se voorste musiekkunstenaars wat hier sy eiesoortige blik op die wêreld met klank en passie deel. Saam met 'n bonus-onderhoud asook verskeie musiekvideo’s is dit meer as net 'n versamelaarsitem vir sy lojale aanhangers. 'n Absolute moet-sien!

Comments