Van Coke Kartel: Wie's Bang strokiesprent-reeks

Die Wie’s Bang strokiesprent-reeks is deel van Van Coke Kartel se loodsveltog om hulle vierde album, Wie’s Bang, te bemark. Die album sal teen einde November die rakke tref.  Drie van die strokiesprente is alreeds aanlyn vrygestel deur Watkykjy.co.za en die vierde strokiesprent sal dieselfde tyd as die album uitkom. Hierdie vier strokiesprente is gratis aflaaibaar by Zefshop.com. Die reeks skop af met Van Coke Kartel wat by ‘n verlate kroeg in die Karoo ingetrek word. Min weet hulle dat die hele plek ‘n uithangplek vir vampiere is.  Nadat die ouens te veel kappe gemaak het, word hulle aangeval en in vampiere verander. Die band ontmoet Kurt Cobain se spook. Hy breek die nuus dat die band net hulle siele sal terugkry as hulle die beste Van Coke Kartel album ooit maak voor die einde van die jaar!  Ons hou dop of Van Coke Kartel in hulle doel sal slaag. Deel Vier word geïllustreer deur Anja Venter en sal teen die einde van November vrygestel word. Wie’s Bang is kunsdirekteur, Marais Janse van Rensburg van die interaktiewe advertensie agentskap WonderMutt, se breinkind. “Ons het verlede jaar ‘n TV advertensie met Van Coke Kartel gedoen vir ‘n ander advertensie agentskap sodat ons die advertensie kon inskryf vir die Pendoring Toekennings.  Die band ingestem om die advertensie gratis te doen.  Ons het ooreengekom dat ek sou bydra tot die loodsveltog van Van Coke Kartel se volgende album as die advertensie sou wen. Die res is geskiedenis en hierdie jaar het ons met ‘n idee vir ‘n strokiesprent opgekom wat handel oor Van Coke Kartel in aanloop tot die album se vrystelling.” Griffin en Blink Stefanus van Watkykjy.co.za het die strokiesprentreeks geskryf. Elke strokiesprent is geïllustreer deur van die land se voorste ontwerpers.

Comments