Snotkop en Valentynsdag en meer...


Valentynsdag is om die draai (vir die wat vergeet het, dit is komende Dinsdag 14 Februarie!) en The Beat het gaan kers opsteek by Suid-Afrika se prins van funky pop-en-dans-musiek, Snotkop. Hy het gerol van die lag toe hy ons van sy beste en slegste Valentynsgeskenke vertel het en wat hy met die goed doen wat aanhangers op die verhoog gooi gedurende sy optredes. En dames, hy gee ook wenke hoe om sy hartsnare te tokkel!
Snotkop
Wat beplan jy vir Valentynsdag? Ek is nie groot op Valentynsdag nie. Dis ’n cool konsep, maar ek dink ’n mens moet daagliks iets spesiaals vir jou geliefde en familie doen en soms blomme koop of vir hulle sê hoe lief jy hulle het.
Vertel ons van jou beste Valentynsdag nog. Dit was seker toe ek nog op skool was. Ek het gewoontlik nooit ’n kaartjie van ’n geheime bewonderaar ontvang nie, maar in standard agt het dit verander en ek was redelik geskok toe ek een ontvang het.
En jou slegste een? Seker al die jare wat ek nooit een ontvang het nie.
Die aardigste Valentynsdaggeskenk nog? ’n Koffiebeker met ’n teddiebeer daarin. Ek drink nie koffie nie.
Mense gooi altyd goed op die verhoog wanneer jy optree . . . Ek het eendag ’n vuil bokserbroekie op die verhoog gevang. Dit was redelik onlangs en redelik vreemd.
Wat maak jy met al die goed wat mense op die verhoog gooi? Ek het ’n groot tas by die huis waarin ek alles bêre – bra’s, T-hempde, kepse . . . Ek waardeer ook al die geskenke, foto’s en briewe wat ek kry.
Die nuwe jaar is in volle gang . . . Hoe behandel 2012 jou tot dusver? Die jaar is tot dusver heerlik en groot dinge is aan die kom. Ek is vreeslik opgewonde oor die jaar. Ek gaan hard werk maar ook meer tyd maak om na myself te kyk.
Enige groot projekte/planne vir die jaar? Definitief ’n nuwe album later die jaar. Maar vir nou eers nog ’n lekker video van my nuutste album ‘Ek laaik van jol’. Die album doen vreeslik goed en ek is opgewonde om te begin songs skryf vir die nuwe een.
Wat is die vreemdste of stroperigste "pick-up line" wat jy al gehoor het? Haai, Francois. Jy’s mos ’n sanger. Kom ons maak mooi musiek saam.
Hoe sal jy iemand se aandag probeer trek as jy wil vlerksleep? Ek dink dit is belangrik om weg te bly van pick-up lines of om iemand te probeer beïndruk. Die beste manier om iemand se aandag te trek, is om vir hulle te wys wie jy werklik is. Foute en al. Dit is gewoontlik die ou wat nie bang is om sy ware kleure te wys nie wat ’n date losslaan.

Comments