Musiek Trivia met Johan Stemmet


Die Noot Vir Noot-gesig Johan Stemmet sprei 'n bietjie sy vlerke met 'n kraakvars nuwe TV-musiekprogram Musiek Trivia, wat op 14 April om 20:00 begin. The Beat het my Johan gaan aanklop om met hom te gesels oor die nuwe reeks, en om ook te hoor of dit nou die einde van Noot vir Noot op SABC2 beteken.
Johan op die stel van Musiek Trivia

Waar kom die konsep vandaan vir Musiek Trivia? Die basiese konsep is om uiteenlopende musiekvrae aan deelnemers te stel. Die inhoudelike moet oor alle eras strek sodat alle 'generasies' saam kan speel. Die vrae en antwoorde moet ook geskoei word rondom interessante gegewens/trivia wat kykers sal vermaak.
Wat is Musiek Triva presies? Dis n musiek Vasvra speletjie waarin deelnemers se kennis van plaaslike en internasionale musiek getoets word. Ons werk met die hele spektrum musiek en kunstenaars, van die goue oues van eergister tot die huidige kunstenaars en hulle musiek.
Hoe verskil dit van Noot vir Noot? In Noot vir Noot gaan dit om die herken van liedjies in verskillende speletjies. In Musiek Trivia gaan dit om die interessanthede en die agtergrond tot en rondom kunstenaars en die liedjies van toeka tot nou.
Wanneer het julle met die idée vorendag gekom en hoe wanneer het julle begin opneem? Ons werk en ontwikkel reeds sedert Maart 2011 aan die formaat en die rekenaar sagteware vir die speletjie. Ons het aan 'n Musiek Trivia boek gewerk wat ook in hierdie dae verskyn en die gedagte om n televisiespeletjie te ontwikkel het gepaard met die navorsing gegaan. Ons het in Februarie vanjaar begin opneem aan die eerste dertien aflewerings en neem die volgende 13 in Mei op.
Wat dink jy is uniek aan Musiek Trivia? Dis n eerste op Suid Afrikaanse televisie. Die formaat is uniek en heerlik oorspronlik. In die eerste afdeling van die speletjie maak jy soveel van 'n moontlike R10 000 bymekaar. Daarna moet jy so min van jou persoonlike beurs moontlik prysgee in n strategiespel waarin jy besluit op moontlike opsies wat aan geldwaardes gekoppel is om jou antwoorde op vrae verskaf. Elke Rand wat verbeur word in deelnemers se pogings om by die korrekte antwoorde uit te kom beland in n boerpot en die wenner van die aand kry die geleentheid om elke sent wat in die boerpot beland het terug te wen.
Hoe lyk jou skedule nou dat jy Noot vir Noot het en Musiek Trivia? Ons soek maar 'n paar ekstra ure in elke dag en begin soggens 7 uur werk. Die kantoordeure sluit nooit voor 7 saans nie. Almal in die span is geweldig opgewonde oor Musiek Trivia en is oorgretig om die eksta myle daarvoor te loop.
Ons moet vra, beteken Musiek Trivia dat daar dalk een of ander tyd ‘n einde aan Noot vir Noot gaan wees? Ek dink nie die een neem by die ander oor nie of dat die een  noodwendig moet sneuwel sodat die ander bestaansreg kan hê nie. Musiek Trivia is n heel andersoortige program as Noot Vir Noot en ook op kykNET in plaas van SAUK. Ons sprei slegs ons vlerke op hierdie stadium en probeer bietjie uitbrei soos van enige gesonde sakeonderneming verwag moet word. Noot vir Noot sal nie ophou agv Musiek Trivia nie en as hy dan moet ophou om watter rede ook al, sal ons Noot vir Noot onmiddellik vervang met 'n soortgelyke musiekspeletjie. Ons sal nie die gehoor en ondersteuning wat ons die afgelope 22-jaar geniet het teleurstel nie!
Het SABC2 dalk enige goedjies laat val dat Noot vir Noot nie hernu gaan word nie? Nee glad nie. Die program doen geweldig goed en genereer steeds volgens " the Media shop" saam met 7de laan die grootse inkomste vir die kanaal. 
Gee vir ons ‘n voorbeeld van ‘n Musiek Trivia-vragie: moeilik en maklik? Wie sing onder die skuilnaam " Harold Wise" in die twintigerjare? Antwoord: Chris Blignaut van ou Ryperd en Ou tante Koba faam. Daar is in hierdie jare geglo dat jy noodwendig 'n Engelse naam moes hê om dit in die musiekwereld te maak.  Eers toe hy die eerste sanger geword het om  in Afrikaans oor die radio te sing het hy besluit om onder sy eie naam op te tree. En so van Engelse skuilname gepraat. Gene Rockwell tref in die sestigerjare met " Heart" . Sy regte naam? Gert Smit! Die gedagte rondom Musiek Trivia lê juis daarin dat kykers in elke vraag en antwoord n stukkie interessante trivia sal ontdek.
Enige kans dat ons jou in jou eertydse helderkleurige onderbaardjies op Musiek Trivia gaan sien? Nee wat, daardie era is 10 jaar gelede reeds iets van die verlede. Die onderbaadjies was om aandag op Noot vir Noot te vestig en mense aan die praat te kry. Dit het uitstekend gewerk want daar word tot vandag toe nog oor die onderbaadjies gepraat. Musiek Trivia vra vir meer ontspanne informele drag en dis die paadjie wat ek hiemee gaan loop!
* Gaan kyk na die konsep-video HIER!

Comments