CD-RESENSIE! Altus Theart - Altus Theart

Althus Theart

Hy was Fafa in Getroud Met Rugby, Werner “Killer” Botha in die Bakgat-flieks, ‘n grensvegter en troepie in Deon Opperman se musiekspel Tree Aan, maar nou gaan Altus Theart sonder die masker van toneelspel rock dat die biesies bewe! Dié veelsydige akteur het pas gedebuteer as ‘n kragdadige sanger met die poprock-album, Altus Theart. Musiek maak is darem nie heeltemal ‘n nuwe arena vir Theart nie. “Ek en Ivan Botha (ook van Bakgat-faam) en Pieter in 7de Laan het ‘n band gehad toe ons nog by die Tshwane Universiteit van Tegnologie drama geswot het. So dit is darem nie heeltemal vreemd om voor mense te sing nie. Die oorgang om nou op ‘n verhoog te staan en sing, was nogal weird. Dit is baie dieselfde as toneelspel, maar ook vreeslik verskillend en tog ook BAIE exciting.” Altus se debuutalbum met sy twaalf liedjies bruis van ongebreidelde rock-energie met oor-tot-oor-kitaarspel, vurige stemwerk en rou passie. Sy kragdadige sang strek deur die liefdesliedjies en poprock-treffers soos Vat, wat in ‘n japtrap by aanhangers van groepe soos Die Heuwels Fantasties sal aanklank vind. Die album word afgesluit met Theart se opname van Daughtry se liedjie, Home. “Ek het ‘n baie breë musieksmaak, wat wissel van Mozart to heavy metal. Vir my gaan dit daaroor of die liedjie met my praat, hetsy die musiek of die lirieke of watookal. Toe ons die liedjies gekies en album opgeneem het, was dit vir my net ‘n kwessie van watter nommers praat met my en ook of die gehoor daarmee kan assosieer.” Sy liefde vir sy musiek is hy aan sy ouers te danke en sy ouer broer wat hom aan rockmusiek bekend gestel het. “Ek was gelukkig om in ‘n huis groot te word waar daar altyd musiek gespeel het: die radio was aan, of opera op die langspeelplate tot Afrikaanse Treffers vol. 1.” Op sy debuut-album is Altus Theart net homself en bewys hy dat hy met al hierdie rock-woema binnekort as Afrikaans se goue seun van rock bekend sal staan!

Comments