CD-RESENSIE! Helene Bester - Tussen Die Lyne

Die meeste kunstenaars kan nie té lank in ‘n gemaksone vertoef nie. Daar is dikwels die droom en behoefte om te vernuwe en die vlerke te sprei. Al heet haar vyfde album, Tussen die lyne, is die donkerkop sangeres Helenè Bester glad nie besig om doekies om te draai nie. Sy is oorgehaal vir nuwe hoogtes en het 12 liedjies opgeneem met veel meer van ‘n aansteeklike pop-klank en ‘n hoofstroom-sjarme wat haar letterlik na nuwe horisonne neem. Die album is “baie meer kommersieel” as haar vorige uitreikings, soos Wens, Hou van jou en Oorgee. “My vorige albums was meer vir ‘n nismark. Ek probeer om met hierdie CD ‘n wyer teikenmark te bereik,” gesels die sangeres. Sy het ook ‘n ander groot droom op hierdie CD bewaarheid. Die enigste Engelse liedjie op die album is Lucky, ‘n duet wat sy saam met haar broer, Cobus Bester, opgeneem het. Dit is oorspronklik bekend as een van die sanger-liedjieskrywer Jason Mraz se treffers. “My boetie is ‘n lid van die band Ice Project en hulle het pas hulle eerste CD uitgereik. Ek wou nog altyd ‘n liedjie saam met hom opneem, maar hy was nie noodwendig lus nie. Haha! Stelselmatig het hy saam met my begin sing by shows - so twee liedjies – en nadat ons gemaklik met mekaar begin voel het, het ek hom gevra om Lucky saam met my op te neem. Hy is agt jaar jonger as ek en VOL lewe. Hy tree ook in The Parlotones se voorprogramme op.” Tussen die lyne is ‘n besielende pop-album wat sprankel danksy Helenè Bester se prag-vertolkings en bekorende fluweel-stem.

Comments