Elvis Blue vier Moedersdag!

Komende Sondag is Moedersdag en ons het by sanger Elvis Blue gaan aanklop om te hoor hoe hy altyd sy ma Mila bederf het die spesiale dag.
Elvis Blue (regs) saam met sy ma Mila en sy dogtertjie Lila

Wat het jy gewoonlik vir jou ma gedoen om haar te bederf op Moedersdag? Ek moet sê ek was nie naastenby so kreatief soos ek moes wees nie. 'n Geskenkie, 'n vet soen, stywe drukkie en 'n "Ek is baie lief vir ma" was gewoonlik wat ek gedoen het.
Het jy soms geskenkies selfs gemaak? O ja. Gediggies, liedjies en allerande interessante kunswerke met gom en gedroogde noedels was gereeld gebruik om die dag spesiaal te maak. Al moet ek nou self sê dat ek nie die beste noedel-kunstenaar op aarde is nie. My ma het darem altyd gelyk asof sy dit waardeer het.
Kan jy dalk ‘n onvergeetlike Moedersdag van jou kinderdae met ons deel? Ai, ek wens nou ek kon 'n verskriklike snaakse of hartroerende storie vertel, maar ek kan ongelukkig nie. Ons het op moedersdae my ma wakker gemaak met geskenkies. Ons het seker gemaak dat sy so min as moontlik werk doen. Skottelgoed was op moedersdag is absoluut verbode gewees. Daar is nie een spesifieke dag wat uitstaan nie - elke moedersdag was spesiaal.
Vertel ons bietjie meer van jou ma? My Pa is Amerika toe, toe ek 5 jaar oud was en my ouers is geskei. My ma het my en my twee sussies en een broer groot gemaak. Sy het ons getroos as ons hartseer was, geraas met ons as ons stout was en sy het ons genoeg lief gehad vir twee ouers. Sy is vir my n voorbeeld van iemand met diepe integriteit en selfs dieper liefde. Ek is verskriklik lief vir haar.
Hoe sal jy jou ma beskryf? My ma is sterk en sag op dieselfde tyd.
Wat beteken Moedersdag vir jou? 'n Baie wyse man het gesê. "The hand that rocks the cradle is the hand that rules the world". Met moedersdag vier ons die mense wat vir ons die belangrikste is. Dit vier die persoon wat saam met my was van die begin af - nog voor ek eers geweet het. Dit vier die persoon wat opgestaan het in die nag toe ek gehuil het, al was sy moeg. Die persoon wat doeke omgeruil het sonder om te kla, die persoon wat altyd lief is vir my.
As jy ‘n miljoen rand wen, wat sal die eerste ding wees wat jy vir jou ma koop? 'n Fantastiese motor. Dis nog altyd 'n droom van my om my ouers na 'n swierige motorhandelaar te vat en vir hulle 'n mooi kar te koop. Hulle is nog altyd uiters beskeie in hul motorkeuses.
Wat is die een ding wat jy wil he mense moet onthou van Moedersdag? Wees lief vir jou ma, maar nie net vir joune nie - vir alle Ma's. Hulle doen wonderlike dinge. As mens soms met mense gesels, kom jy vinnig agter dat baie vroue alles doen vir hul kinders. Die kassier by die winkel is tien teen een n ma wat werk om haar kinders deur die skool te sit. Deur net respek aan haar te betoon deur vriendelik te wees, vier 'n mens moedersdag. Dieselfde geld vir petroljoggies, huishulpe en sommer meeste vroue wat mens raak loop. Ons moet hulle regtig respekteer, want hulle is verantwoordelik vir ons toekoms.

Comments