10 Uit 10 vir Heinz Winckler

Die kookwater Afrikaanse-sanger Heinz Winckler is ‘n besige man. Hy was te sien in Jesus Die Musiekblyspel, het ‘n nuwe CD (Jy's Bonatuurlik) uit en het ‘n sanger onder sy vlerk geneem wat binnekort sy CD eie uitbring. Buiten dit is hy ook ‘n gesinsman! The Beat het by "Hunky Heinz", soos ons hom leer ken het in die eerste Idols SA, gaan inloer om te sien hoe hy alles bymekaar hou…

Vertel ons bietjie meer oor die nuwe CD? "Jy's Bonatuurlik" is 'n weerspieëling van wie ek is en waar ek is in my lewe. Daar is 'love songs' vir my vrou, 'n liedjie vir my jongste seun, en liedjies soos "Jy's Bonatuurlik" en "100 000 Gebede" wat iet van my geloof oortuigings oordra.

Jy het baie met jou aanhangers gekommunikeer oor die CD se omslag ens. Hoekom? Ons het deur 'n lang proses gegaan van besluite neem oor die 'look and  feel' van die album en album omslag. Toe als nou klaar is, het ons gesit met die uitdaging van 'n finale foto vir die voorblad kies. Ek, mense van die platemaatskappy, my vrou, die fotograaf en die ontwerper het almal deel gevorm van 'n span wat hierdie besluit moes neem en op die ou end was daar twee gunstelinge. Ek het toe gereken dit sal interessant wees om te sien wat die publiek dink. Ek was oorweldig met die reaksie! Dis die meeste "Likes" en "Comments" wat ek nog ooit op 'n enkel plasing op Facebook gekry het, en die foto wat nou op die voorblad is was loshande die wenner uit oor die 3000 stemme.

Hoe belangrik is jou aanhangers se insette op jou werk? Dit speel uiteraard 'n belangrike rol aangesien hulle die verbruikers is van my produk. Ek dink die geheim is om my deel so goed, volledig en behoorlik as moontlik te doen, sodat die publiek se bydra maklik en lekker is om te gee of maak. Dis ook vir my belangrik dat hulle voel hulle is om 'n manier deel van die skepping van die eindproduk.

Hoe verskil jou nuwe CD van jou vorige vuurwarm CD’s? Dankie vir die kompliment! Ek sou sê dat alhoewel hierdie steeds in die pop genré val, die nuwe een 'n ander klank het. Dis deels te danke aan die feit dat ek met 2 nuwe vervaardigers gewerk het, maar het meer te doen met die strewe daarna om iets nuuts en vars te doen. Daar is ook 'n paar verassings soos "Honeymoon By Die Huis" wat wegbreek van die tipiese groot elektries kitaar gedrewe klank en "Jy's Bonatuurlik" wat 'n sterk klassieke invloed het.

Hoeveel liedjies het nie die “final cut” van die CD gemaak nie? Ongeveer 14 liedjies.

Jy blyk na ‘n besige ou te wees. Buiten die CD, het jy ook in ‘n musiekblyspel gespeel. Vertel ons meer van jou ervaring en die rol wat jy gespeel het? Om die rol van Jesus te vertolk in "Jesus Die Musiekblyspel" was 'n oorweldigende gedagte aanvanklik. Maar die Here het in my stilte tyd en deur my vrou en my vriende my so mooi gelei in hoe ek dit moet benader en uitvoer dat ek eintlik op die ou end dit baie geniet het. Dit was vir seker uitdagend, veral fisies en emosioneel. En ek was glad nie mal oor die bad wat ek na elke show moes vat om net al die merke en bloed af te was nie. Maar al die moeilike goed het absoluut verdwyn in vergelyking met wat God kom doen het met hierdie vertoning. Ek glo daar is 'n noemenswaardige impak gemaak in die geestes realm en in mense se lewens.

Hoe balanseer jy jou werk met jou familie as jy so besig is? Baie versigtig! Hehe! Dit verg baie wysheid en organisasie en ek voel gereeld dat ek nie mooi by als uitkom nie. Maar ek ervaar dat die sleutel is om die heeltyd my prioriteite in gedagte te hou: God en Sy Koningkryk, my vrou, my kinders en my werk. Als vorm deel van my roeping in die lewe, maar sonder God en my familie as hoeksteen, beteken die res niks. Ek streef daarna om te leef soos 'n burger van die hemel wat net tydelik hier is en my oë vestig om dit wat ewigheidswaarde het.

Jou vrou, Alette, blyk net so besig te wees. My vrou is baie talentvol en veelsydig. Sy is 'n gekwalifiseerde en baie suksesvolle voorkomskonsultant en doen uitstekende praatjies vir vroue oor styl, kleur en inkopies asook seminare vir maatskappye oor besigheids etiket, lyftaal en professionele beeld. Sy is 'n verspreider van NuSkin produkte. Sy is ook baie musikaal. Sy het vir lank by my shows vir my klavier gespeel en agtergrond stem gesing. Uit daardie talent het die die Zzzz Lulla-Baai reeks ontstaan in samewerking met haar beste vriendin, Sumari Schoeman. Die reeks bestaan uit 'n CD, DVD en LullaBybel. Dit word versprei deur Christian Arts Media en verkoop soos soetkoek! Ek is baie trots op haar. Ek was die vervaardiger van die musiek op die CD en DVD.

Buiten die musiekblyspel, nuwe CD, watter ander projekte is jy tans mee besig? Ek het sopas 'n 12 snit album klaar vervaardig vir 'n opkomende kunstenaar wat een van my werkswinkels bygewoon het, en ek het begin met nog een vir 'n jong dame wat ook by een van my werkswinkels was. Ek is ook besig om die privaatskool Curro Aurora in die noorde van Johannesburg te help met die ontwikkeling van hulle Performing Arts Academy - 'n geïntegreerde sentrum waar musiek lesse en dans lesse gegee word, asook opleiding in musiek vervaardiging en regstreekse klank ingenieurswerk. So dit bestaan uit oefenkamers, 'n dans studio, 'n musiek studio en 'n klein live venue.

Watter TV-programme geniet jy? Ek's mal oor goeie tv shows en flieks! Op die oomblik is ek mal oor Arrow, Grey's Anatomy, Blue Bloods, die CSI-reekse en die nuwe komedie Go On. Ek hou ook baie van Suits en Good Wife.

Laastens, wat is jou gunsteling manier van ontspan? Dis moeilik om een te kies, maar die drie top maniere vir my is om 'n goeie groot skaal aksie fliek met pizza en rooiwyn te geniet, om bodyboard te ry in die see in die Kaap, en om op 'n wynplaas omring deur berge 'n goeie middagete saam met vriende te geniet.

Comments

  1. Thank you very much for this insightful article. It is so nice to learn more about someone we all look up to.
    Heinz, you are such an example to men out there. Keep up the good work.

    ReplyDelete

Post a Comment