Kom kuier saam met musiek-sensasie Arno Jordaan

Die Afrikaanse sanger Arno Jordaan is ’n man van vele talente. Die blondekop-hartebreker is nie net ’n sanger nie, maar ook ’n “entertainer”. Behalwe sy sang, het hy ons vertel van ’n kortfilmprojek waaraan hy vir kykNET werk. “Ons sal sien hoe baie ek dit geniet,” sê hy en lag lekker. “Miskien sal ek daarna meer ernstige voelers uitsteek.”

Sy ander passie is musiek. Hy het al ’n hele rits treffer-CD’s en liedjies die lig laat sien. Die liedjie ‘Stukkie Van Jou Hart’ is een van die liedjies wat mens sommer hoendervleis gee. “Dit gaan maar oor die liefde, soos altyd.” Arno vertel trots dat die bekende jong Nederlandse sanger Matthijs Koning ‘Stukkie Van Jou Hart’ heropgeneem het as ‘Sleutel Van Jouw Hart’. Arno bieg: “Dis nogal ’n lekker gevoel om te weet dit het oorsee ook aanklank gevind!” Sy liedjie Ek Wil Jou Hê is op die nuwe kompilasie-CD, Braai & Kuier Saam Met RSG.

Ons wou by Arno weet wat vir hom belangrik is vir ’n lekker kuier om ’n braai. “Goeie Suid-Afrikaanse vleis en wors, goeie wyn, ’n lekker vuurtjie wat goeie kole maak, lekker agtergrondmusiek en natuurlik goeie geselskap.” Arno het al tevore in die Paarl opgetree en vir hom is die dorp “’n pragtige, rustige plek waar mens kan afskakel en die natuurskoon geniet. Ek het nogal ’n paar vriende in die Paarl.”

Vir die skone geslag, Arno is getroud. “Ek is ongelooflik lief vir my gesin. My seuntjie, Milan, is my lewe en ek is onvoorwaardelik lief vir hom en my vrou, Lizanie.” As Arno nie ’n sanger was nie, sou hy beslis ’n blink toekoms in rugby gehad het. “Ek was baie lief vir die sport, maar ’n knieskyfbesering en operasie het my sportloopbaan beëindig. Ek speel nie meer rugby nie, maar so nou en dan speel ons  raakrugby wanneer ’n klomp van ons vriende bymekaar is. My gunstelingspeler is Morné Steyn. Ek is ‘n groot Blou Bul-ondersteuner, dit is nou naas die Springbokke.”

Op die vraag hoe hy homself in 5 woorde sal opsom, het hy die volgende gesê: “Ek is ’n positiewe ‘go-getter’”.  Hy is tans hard aan die werk aan ’n nuwe CD wat so oor ’n paar weke gereed sal wees. “Ons het nog nie ’n titel nie, maar dit sal binne die volgende paar weke besluit word.”

Comments