Riaan Cruywagen: Op die maat van musiek


Vir dekades lank het ons elke aand vir Riaan Cruywagen op die radio en TV gesien. Die vriendelike oom wat so mooi Afrikaans praat. Die oom met sy warm glimlag wat jou sommer lekker laat voel het as jy nuus gekyk het. Nou het Riaan sy vlerke gesprei na musiek. The Beat het met die veteraan TV-aanbieder gesels oor sy nuwe CD, sy liefde vir musiek en of hy in die stort sing.

Jy het ontpop in 'n musiek-kenner van formaat! Waar kom jou belangstelling in musiek vandaan? Ek dink nie ek het skielik ontpop nie, want ek het met musiek grootgeword en ook lank musiekonderrig ontvang. Ek is trouens ‘n opgeleide kerkorrelis. My pa was ‘n tenoor van formaat wat selfs Mimi Coertse se bewondering in haar jongdae afgedwing het. Musiek is dus diep in my gene vasgelê. Gevolglik het ek in die tien jaar voor die koms van televisie as radio-omroeper by die destydse Afrikaanse Diens ook talle musiekprogramme aangebied, lig sowel as klassiek.

Kan jy nog onthou wat die heel eerste langspeelplaat is wat jy gekoop het?  Ja, dit was ‘n langspeelplaat van die Amerikaanse orrelis Virgil Fox, getiteld Vale of Dreams, waarop hy werke soos Meditation van Massenet, Liebestraum van Liszt, Clair de Lune van Debussy en vele ander op die groot Aeolian-Skinner pyporrel in die Riverside-kerk in New York uitvoer. Dit het my só meegevoer dat ek destyds die orrelbladmusiek van dié stukke aangekoop en ingestudeer het. Ek het vandag nog die plaat.

Wie is jou gunsteling Afrikaanse musiekster?  Dis ‘n moeilike vraag, want daar is so baie van wie ek hou. Dalk is dit tóg maar die pianis Rocco de Villiers. Hy is ‘n briljante klavierspeler en kan van die moeilikste klassieke werke tot die mees ritmiese ligte-musiek meesterlik vertolk. En dan is hy nog boonop so vermaaklik en flambojant op die verhoog ook.

Wie is die musikale persoon in jou huishouding? Ongelukkig net ek.

Hoe hou jy tred met al die nuwe musiek wat deesdae uitkom?  Ek hoor dit maar oor die radio. My ore dien egter as genadelose filters en ek neem net kennis van dit waarvan ek hou. Die res gaan by die ander oor uit en verdwyn in die vergetelheid.

Wat is jou gunsteling liedjie om te sing in die stort?  Ek sing nie, punt. Nie eens in die stort nie. Ek luister liewer na mense wat kán sing.

Comments