Locnville

Locnville
Locnville

Friday, 31 October 2014

Koos Kombuis – die treklorrie, Madiba, Lisa Se Klavier en Afrikaans

Die vroegste herinnering wat Koos Kombuis van sy kinderdae het, is die van ‘n treklorrie. “My pa het dikwels van werk verander en daarom het ons ook aanhoudend getrek van dorp tot dorp. Ek het my kinderjare geslyt in Riversdal, Paarl, Wellington, Kuruman en Bellville. Uiteindelik het ons vasgehaak in Stellenbosch.” Koos is gebore “kort voor teetyd op 5 November 1954 in ‘n kraaminrigting in Duiwelspiek, Kaapstad”. Hy is gedoop as André le Roux du Toit en ons wou by die guru van Afrikaans weet waar hy die naam Koos gekry het, asook wat hy onthou van sy dae in die Paarl en sy herinneringe aan Johannes Kerkorrel.

Wat onthou jy van jou tydjie in die Paarl? Ons het in ‘n klein huisie in Olyvenstraat gewoon, waar ek baie gelukkig was. Ek was toe agt jaar oud, en reeds voltyds aan die stories skryf op my pa se ou Underwood-tikmasjien. Ek onthou dat ek op ‘n stoel met twee of drie kussings moes sit om die klawers by te kom. Die Paarl het ‘n ou-wêreldse atmosfeer wat vir my baie bekoorlik is. Vandag nog geniet ek dit om soms daar op te tree.

Jy’t op skool jou bynaam Koos gekry, hoe het dit gebeur? Die bynaam het ek in standerd drie (Graad 5) gekry, toe ek die hanswors van die klas was. Op daardie stadium was “Koos van der Merwe”-grappe hoog in die mode.

Lisa Se Klavier was en bly steeds een van my gunsteling liedjies. Plaaslike rockers The Parlotones het ook ‘n weergawe van die liedjie opgeneem. Vertel ons meer van die liedjie. Lisa Geldenhuys was ‘n goeie vriendin van my wat in Kaapstad gewoon het. Ek het dikwels vir haar gaan kuier as ek depressief voel en dan het sy my laat beter voel deur vir my klavier te speel en vir my appelkoopstee te bedien.

Een van jou beroepe was brandweerman. Ek het vir ‘n paar jaar lank vir die brandweer gewerk. Dit was dalk nie ‘n goeie keuse nie, want ek is bang vir hoogtes en kon niks verstaan van die noodhulpklasse nie. Nietemin was dit van my gelukkigste jare en het ek baie vriende daar gemaak.

Jy was in ‘n stadium in Weskoppies Psigiatriese Hospitaal opgeneem. Hoekom? Ek het self gevra vir sielkundige hulp in 1977. My ouers het my verkeerd verstaan en my na ‘n psigiater geneem, wat verkeerdelik aangeneem het dat ek ‘n dwelmprobleem gehad het en my laat opneem het in Saal 6 saam met verskeie dwelmslawe en sogenaamde “skisofrene”. Dit was ‘n interessante ervaring.

 Jou eerste plaat, Ver Van Die Ou Kalahari, was as ‘ongewens’ gebrandmerk deur die destydse sensuurraad. “Ver van die ou Kalahari” was nie eintlik ‘n plaat nie, maar ‘n ‘low budget’ kasset. Destyds kon ek glad nie verstaan waarom dit so ‘n opskudding veroorsaak het nie. In retrospek besef ek dat die meeste Afrikaanse musiek van daardie jare gemaak is deur kunstenaars soos Gé Korsten en Sonja Herholdt, en dalk was Afrikaners nie heeltemal gereed vir liedjies met titels soos “Ontug in die Lug” nie.

Die Voëlvry Toer was supergewild onder studente en berug onder die regime. Dit word beskryf as die ‘Boere-Woodstock’. Wat was die doel van die hele toer? Die doel was eenvoudig: om apartheid omver te werp. Dit het gewerk, hoewel ek moet erken daar was ook ander faktore wat gehelp het. Ons wou werk vir ‘n breë demokrasie en ook vir die de-stigmatisering van Afrikaans as “taal van die onderdrukker”.

Johannes Kerkorrel was deel van die toer. Wat onthou jy die graagste van hom? Johannes (Ralph) was ‘n baie goeie vriend en ek mis hom vreeslik. Die meeste mense onthou hom as ’n wilde rocker, maar hy het ook sy sagte kant gehad. Ek onthou hom vir sy menslike empatie, sy goeie maniere en sy vlymskerp humorsin.

Ek kry soms die gevoel Afrikaans word effe geboelie in die land. Hoe sien jy die toekoms van die taal? Afrikaans word nie so erg geboelie soos wat baie mense hulle verbeel nie. Ek sien geen probleme vir die toekoms van die taal nie. Die enigste dialek van Afrikaans wat dalk in gevaar is, is ongelukkig standaard-Afrikaans.

Wat is jou siening oor woorde soos Afrikaan, Afrikaanses, Suid-Afrikaan, Suid-Afrikaner? Ek is seker maar ‘n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner. Dis vir my ‘n beter beskrywing as “Afrikaner”, hoewel ek nie deesdae meer vreeslik baie waarde heg aan sulke etikette nie.

Dink jy die huidige regering doen genoeg om Afrikaans te beskerm? Die regering doen hopeloos te min vir alle inheemse tale. Dis asof hulle glad nie dit as ‘n prioriteit beskou nie. Ek kan verstaan dat Engels ‘n gerieflike lingua franca is, maar dit maak mense ook lui om mekaar se tale aan te leer.

Op jou CD Dertien het jy ‘n liedjie, Dankie, Madiba. Wat is die storie agter die liedjie en wat dink jy is die naletanskap wat Madiba vir ons gelos het? Ek waardeer Madiba se nalatenskap van vrede. Die interessante ding van daardie liedjie was dat my eerste groot uitvoering van daardie lied, lewendig op ‘n verhoog in die reusagtige Atterbury-teater in Pretoria, gebeur het op die presiese oomblik toe Madiba besig was om te sterf. Die meeste van ons het die nuus eers die volgende oggend gekry.

Wat was die eerste plaat wat jy gekoop het? “My Boy Lollipop” deur Milly, ‘n solus-sewe-plaat uit 1964. Dit het sestig sent gekos.

Jy skryf deesdae meer as musiekmaak. Ek voel dat ek ‘n plafon bereik het met my musiek, en dat te veel van my lewendige vertonings ‘n herhaling is van ou liedjies wat mense tot vervelens toe wil hoor. Om nuwe stories en idee’s uit te dink in my studeerkamer is ‘n veel groter uitdaging.

Wat weet mense nie van Koos Kombuis nie? Dat ek die vier-en-sestig hoofstuktitels van Confucius se i-Tjieng-teks uit my kop uit ken.

Wat maak jou kwaad en huil? Ek word kwaad as mense nie hul ‘indicators’ gebruik by mini-verkeersirkels nie. Ek huil oor al die misdaad en die plaasmoorde in hierdie land.

Waarvoor lag jy die meeste? Politici.

As jy eendag jou kop neerlê, wat moet op jou grafsteen staan? “Sien jou weer”

No comments:

Post a Comment