TAYE BRINK beïndruk met eerste Afrikaanse enkelsnit!


Die opgewekte, voetstamplekker wysie en vrolike lirieke van die sangeres Taye Brink se nuwe liedjie, WAT AS, gaan beslis binnekort ’n gunsteling wees op al wat ’n partytjie en dansvloer is. Hierdie enkelsnit is pas vrygestel en reeds besig om die trefferleer op iTunes te klim.

WAT AS is geskryf deur ADAM se Hugo Ludik en gaan oor twee mense wat mekaar vind, maar nie seker is of dit ware liefde is nie. Albei besef egter dat hulle nie hierdie kans moet laat verbygaan nie, want wie nie waag nie wen nie.

“Ek glo dat luisteraars beslis by die tema van hierdie snit sal aanklank vind. My doel is om mense te raak met die waarheid wat vasgevang is in my musiek en ek glo dat dié liedjie juis ander sal inspireer om ’n bietjie meer in hulleself te glo,” vertel Taye oor haar eerste Afrikaanse enkelsnit wat spog met ’n lekkerluister Country-Pop-aanslag. “Die liedjie is baie goed ontvang die paar keer wat ek dit tydens ’n vertoning gesing het, so ek voel baie positief oor hierdie vrystelling.” ’n Musiekvideo word ook vir dié vrystelling beplan, maar hieroor wil sy nog nie te veel verklap nie.

Hierdie lewenslustige negentienjarige kom van Alberton af en hou al konsert vir haar ma en ousus vandat sy kan onthou. “My ma was ’n enkelouer en het altyd vir ons gesing en musiek in die huis gespeel. Ek was vier toe sy vir my ’n speelgoedmikrofoon gekoop het en ek was mal daaroor om saam met Celine Dion en Elvis Presley te sing,” gesels Taye, wat haar bynaam as verhoognaam gebruik. Sy sing al in die skoolkoor vandat sy agt jaar oud is en het begin sanglesse neem nadat sy ’n sangkompetisie gewen het. Die musikant spog ook met ’n rits kwalifikasies van Trinity College London en is uitgenooi na ’n meestersklas nadat sy die tweede beste prestasie in Suid-Afrika behaal het in haar eksamen.

Alhoewel sy nog jonk is, is sy reeds agt jaar aktief besig in die musiekbedryf en het sy al talle hoogtepunte behaal. Sy het die voorreg gehad om voor internasionale kenners en agente, soos Kim Myers van die ARTS EXPO, Tashia Stafford van Icon Studio’s Atlanta en Nate Butler van America’s Got Talent op te tree. Verder het die ster ook deelgeneem aan die Applause Rising Talent Showcase in Orlando in die VSA, asook We’ve Got Talent Boksburg (2012-wenner, 2013-naaswenner), die Klip Koppie Musiekfees (2010-finalis) en School Idols (2012-2014). Die sangeres was ook al te sien by funksies soos die Alberton Blanket Drive, Kankerdag, die Jeugdag-fees, HIV-bewusmakingsdag en verskeie damesteegeleenthede.

Haar eerste album, Stronger Than Ever, is in 2015 vrygestel, waarna twee Engelse enkelsnitte gevolg het, naamlik Till I Find You en A Life Time, met die hulp van Byron Keno en Nate Butler, onderskeidelik. Verder was hierdie model en verhoogaktrise ook ’n agtergrondsanger op Franz Geldenhuys se enkelsnit, Lullaby, en sing sy in ’n gedeelte van die Afrikaanse fliek, Gebore Talente, wat in 2018 uitgereik is.

Taye het groot bewondering vir moderne Country- en Pop-kunstenaars soos Taylor Swift en Carrie Underwood en put hoofsaaklik inspirasie vir haar musiek uit alledaagse gebeurtenisse en ervarings. In die toekoms sou die sangeres ook nog graag saam met Juan Boucher, Elandré Schwartz en Elizca Coetzer wou werk as sy die kans sou kry.

Sy verklap dat sy glad nie een is vir frilletjies en fieterjasies nie en dat sy mal is oor visvang en diere. In haar vrye tyd skilder sy en is sy besig om te werk aan materiaal vir ’n nuwe album. Omdat sy lief is vir kinders, sou sy graag haar musiekkennis wou aanwend om vir hulle iets te leer wanneer sy nie besig is met optredes nie.

Die musiekberyf het vir Taye Brink geleer om hard te werk om die deure wat vir haar oopgaan oop te hou en nie moed te verloor wanneer dinge nie uitwerk soos beplan nie. Haar droom is om die harte van mense in Suid-Afrika, en regoor die wêreld, te verower met haar pragtige stem, storievertellerslirieke en unieke klank. As WAT AS enige aanduiding is van wat sy beplan, wag daar voorwaar ’n blink toekoms op haar in die musiekwêreld.

Comments